Magtelose deernis

MAGTELOSE DEERNIS
Die Burger, 15 Julie 1989

Daar kom dikwels geleenthede in ons lewe waarby ons volkome magteloos is om op ’n betekenisvolle wyse uitdrukking aan ons deernis teenoor ander mense te gee.

Ken ’n ouer dit nie teenoor sy kinders nie? Miskien is daar geen ander vorm van liefde waarin ons van nature so bereid is om ons self prys te gee ter wille van hulle wat ons liefhet, as ouerliefde nie. Dit maak nie saak hoe dikwels ons kinders ons teleurstel nie. As daar in hulle lewe werklik nood kom, staan al die emosies van ons onvoorwaardelike toegeneentheid tot hulle in ons op, en is ons selfs bereid om in hulle plek te ly en te sterwe.

’n Mens moet ’n keer weer rustig die geskiedenis van Dawid en Absolom lees. Watter ouer kan dit met droë oë doen? Die smart van die liefde wat Dawid ervaar as sy goddelose seun die prys vir sy opstand teen sy eie vader betaal, is ’n beeld van die liefde van God en sy smart oor ons sonde, dwaasheid en vervreemding van Hom.

Maar daardie selfde deernis wat in die geval van Dawid op ’n dramatiese oomblik na vore breek, is tog altyd latent by ons aanwesig. Ook in die gewone gang van die lewe lê dit in ons hart opgesluit en staan dit op as ons andere sien ly of swaarkry.

Dit raak nie net ons kinders nie. Dit raak in ’n besondere sin ons lewensmaat, maar ook ons ouers en verwante, en in ’n wyer kring ons vriende en selfs mense wat ons miskien maar net op ’n afstand ken of toevallig ontmoet. Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan praat oor iets wat nie heeltemal vreemd aan ons kan wees nie.

En tog moet ons telkens weer ervaar hoe magteloos ons in ons deernis is. Natuurlik: daar is baie dinge wat ons vir andere uit liefde kan doen en ook werklik doen. Maar daar kom ’n punt waar ons nie verder kan gaan nie, en min of meer buite hulle smart bly staan.

Dawid kon uiteindelik, ondanks sy gebroke hart, niks vir Absolom doen nie. Dikwels staan ons teenoor mekaar se leed met ’n stukkende hart, maar niks wat ons kan doen of sê, kan iets verander aan die pyn van die ander nie. Al ons woorde, selfs ons aanraking van mekaar, gee wel op ’n gebrekkige manier uitdrukking aan ons medelyde, maar verder as dit kan ons nie gaan nie. Veral as dit kom by die laaste skeiding en die dood die grens tussen ons en ’n geliefde finaal afsluit, bly ons met ons trane hulpeloos agter.

Hoe wonderlik is dit om te weet dat God in sy liefde nie so magteloos as ons is nie. Uiteindelik kan ons ook niks beter doen as om ons geliefdes aan Hom af te gee nie. Hy tree in waar ons faal. Hy gaan mee as ons afskeid neem.

Ons mag in elk geval daarvan seker wees dat Hy nie minder deernis sal hê as wat ons ervaar nie. Hy sien ons trane en gebede en hoor daarin die smeking dat die dag van die vernuwing van alle dinge tog spoedig sal kom. – WDJ