Realiteite

REALITEITE
WD Jonker
Die Burger, 17 Julie 1989

Die Bybel maak dit bepaald nie vir ons maklik nie. Dit is so duidelik daaroor dat God van ons vra om Hom met ons hele wese lief te hê en ons naaste soos ons self; en dit spel in sulke konkrete terme uit wat dit beteken, dat ons werklik nie kan sê dat ons nie weet wat die wil van God vir ons lewe is nie.

Daar is nie net die Tien Gebooie nie, daar is ook die Bergrede, die gelykenisse en die ander woorde van Jesus; daar is 1 Kor 13 met sy ongelooflik duidelike uitsprake oor wat die liefde van ons vra, en daar is die vermanende gedeeltes in die briewe van Paulus wat tot in fyn besonderhede uitspel wat die wet van die liefde konkreet beteken.

Ons weet dit alles. Ons lees dit en dit is vir ons selfs mooi. Maar wanneer dit by die konkrete lewe kom, skuif ons skielik ’n filter tussen die Bybel en ons daaglikse lewe in.

Natuurlik sal ons nooit ontken dat die Bybelse woorde waar is nie. As goeie Christene sal ons selfs sê dat die Bybel die hoogste gesag het, en as iemand die gesag van die Bybel bestry of selfs maar volgens ons mening met sy metodes van uitleg aantas, sal ons verontwaardig wees. Maar in die praktyk hanteer ons tog meganismes wat die gesag van die Bybel vir die praktyk van ons lewe grootliks neutraliseer.

Een van die maniere waarop ons dit doen, is om te verwys na die realiteite van ons bestaan. Die Bybel kan pragtige dinge sê ja, maar as dit om ons gewone lewe en ons omgang met gewone mense gaan, vind ons die Bybel eintlik onprakties. Die toepassing van die Bybelse norme in ons gewone lewe is moeiliker as wat dit lyk, want dit stel ons voor die vraag of ons werklik bereid is om te glo dat die gebod van God betroubaar is om die lewe te dien en te genees, en nie ’n gevaarlike idealisme is wat ons skade kan berokken nie.

In die gewone lewe gaan dit immers daarom dat elkeen vir homself sorg, dat ’n mens op jou regte staan, dat ’n mens nie ander toelaat om die kaas van jou brood af te eet nie, ensovoort. In die lig van die gewone lewe lyk die hele Bergrede dan meteens onprakties. Hoe kan ’n mens tog doen wat Jesus gesê het? Hoe kan ons tog ernstig ingaan op woorde van Jesus, soos byvoorbeeld dat elkeen wat sy eie lewe soek, dit sal verloor?

Ons is almal meesters daarin om die Christendom te verburgerlik tot ’n bietjie uiterlike ordentlikheid. Maar navolging van Jesus tot op die punt waar ons bereid is om ons self te verloën, sit daar dan nie meer in nie.

Ons kan wel met die nodige verontwaardiging verwys na die fariseërs wat deur Jesus skerp veroordeel is, maar ons merk nie meer dat dit presies is wat Jesus teen hulle gehad het nie: dat hulle in allerlei dinge wat min gekos het, nougeset was, maar die belangrikste van die wet nagelaat het: die selfverloëning, die liefde en die barmhartigheid. – WDJ