Vreugde oor andere

VREUGDE OOR ANDERE
Die Burger, 22 Julie 1989

Dit is natuurlik om bly te wees oor ons eie vooruitgang en opgang, maar dit is ’n wonderlike gawe van die Gees om bly te wees oor die vooruitgang en sukses van andere. Daarin kom eers regtig uit of ons innerlik deur die Gees van God aangeraak is en met liefde vervul is.

Die Bybel laat ons pragtige voorbeelde sien van mense wat hulle kon verbly oor die gawes van God aan andere. Dink maar aan Jonatan die seun van Saul, wat die genade ontvang het om hom oor Dawid te verbly, al het hy besef dat Dawid sy plek as die toekomstige koning van Israel sou inneem.

Die kontras is soveel groter as ons sy optrede vergelyk met die van sy vader Saul wat homself bedreig gevoel het deur Dawid en daarom vir Dawid gehaat en vervolg het met die doel om hom uit die weg te ruim. Al wat Saul daardeur bereik het, was om sy eie lewe ongelukkiger te maak en die dag van sy eie ondergang te verhaas. Jonatan, daarteenoor, het die vryheid gehad om hom in liefde in Dawid te verbly en vreugde in sy vooruitgang te vind.

Dit laat ’n mens vanself dink aan Johannes die Doper. Dit sou so maklik vir hom gewees het om Jesus as konkurrent te ervaar. Dit lyk selfs of sy dissipels probeer het om hom teen Jesus op te maak deur hom daarop te wys dat Jesus groter skares trek en meer mense doop as hy.

Maar ook Johannes ontvang die genade om hom in Jesus te verbly. Jesus moet meer word, maar hy minder. Hy tree met ’n innerlike vreugde op die agtergrond in die erkenning van die voorlopigheid van sy eie rol. Hy neem met beskeidenheid die plek in wat God vir hom bedoel het, sonder om met jaloesie vervul te word oor die plek wat God vir Jesus beskik.

Ons staan nie in die besondere heilshistoriese posisie van Johannes die Doper nie. Ons staan ook nie in die skoene van Jonatan nie. Maar ons staan almal in posisies waar daar ander mense rondom ons is wat meer begaafd as ons is, wat tot groter verantwoordelikheid geroep word, wat meer sukses behaal en ons verbystreef. En almal van ons word geroep om in die situasie in die gees van Jonatan en Johannes op te tree.

Dit is ’n groot genade as ons Gods beskikking oor ons eie lewe en oor die van andere kan aanvaar en respekteer, ja ons selfs met blydskap daaroor kan verheug as andere deur God begenadig word op ’n wyse wat ons nie te beurt geval het nie. Dit is ’n seën as ons lewe nie verbitter word deur jaloesie en naywer en ’n voortdurende neiging om andere af te breek, sodat ons daardeur hopelik soveel groter en belangriker kan lyk as wat ons werklik is nie.

Dit is ’n groot genade as ons die geheim van die liefde geleer het wat vir andere ruimte kan maak, en daardeur nie self armer word nie, maar ryker deur ons vreugde aan die goeie gawes van God in andere se lewens. Net ’n lewe wat na buite gekeer is, kan werklik gelukkig wees. – WDJ