TUISKOMS
Die Burger, 29 Julie 1989
Daar is ’n geweldige vertroosting vir die hart in die stilte van gebed aan die einde van die dag. Dit is soos ’n tuiskoms by God tot wie ons inkeer, al weet ons ook dat Hy die hele dag by ons was en in werklikheid nooit ver van ons af is nie.
Maar in ons hart was ons dikwels ver van Hom af. Die lewe het oor ons heengegaan en ons was verswelg in die gang van die dinge en die worsteling van ons hart. Ons het Hom vergeet in ons opgewondenheid, in ons sorg, in die spanning van ons werk. Ons lewe het gesentreer rondom ons eie belange en ons eie ideale. Daar was soms geen onderskeid tussen ons en mense wat volkome wêreldlik dink, lewe en optree nie.
Ons het in ons hart ruimte gegee aan emosies en reaksies wat ons as kinders van God nie waardig was nie. Ons het vir mense kwaad geword, ons het die Gees bedroef en geleef uit die ou beginsels van ons vlees wat al lankal gekruisig moes gewees het. Of ons het in ons dwaasheid opgetree op ’n manier wat nie net vir ons self skande beteken nie, maar ook sy Naam oneer aangedoen het.
Tog is dit nie net die dinge waarin ons gefaal het, wat ons ver van God af te staan gebring het nie. Dit het ook gebeur deur die talle dinge wat ons lewe beweeg het en veral deur die dinge wat ons met droefheid en melankolie vervul het, met die hartseer oor alles wat verkeerd is en nooit meer kan regkom nie, met die pyn van vervreemding en eensaamheid wat in ons hart leef.
As ons die Psalms lees, kom ons daarin al die emosies teen van die mens in sy swakheid en gebrokenheid. Die Psalms is vol van droefheid, van vrees vir die vyande, van hulpgeroep in die aangesig van teenstanders wat van alle kante dreig, van angs vir die mag van die chaos wat oral lê en loer.
Hoe naby is dit nie aan die soort vae angs waarmee die moderne mens voortdurend in sy hart moet worstel nie? Ons verbeel ons maar dat moderne mense nie meer so voel nie. Ons moet maar ons harte ondersoek en die moed hê om bewus te word van wat in ons harte leef, om te weet dat die Psalms ’n taal praat wat ons uit die hart gegryp is.
Dit is uit al hierdie dinge – uit ons mislukkings en ons sorge – dat ons saans kan terugkeer na die binnekamer waar ons voor God kan kom net soos ons is, en waar ons ontvang word sonder verwyt. Ons mag ons hart daar oopmaak, ons mag sug en om vergiffenis bid, ons mag pleit om die beskerming en genesing wat ons na die verwonding van die dag nodig het.
Hoe arm, hoe haweloos is ’n biddelose mens nie! As ons maar die genade kan vind om stil te word by God, sal ons ook iets ervaar van wat Psalm 131:2 sê: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” – WDJ