MORELE NOOD
Die Burger, 5 Augustus 1989
Ons tyd word gekenmerk deur groot oorgange en veranderinge op allerlei terrein, waarvan baie vir ons moeilik is om te hanteer, veral omdat ons nie weet waarop dit sal uitloop nie. Tog kan ons nie anders as om dit mee te maak nie, en omdat ons kan insien dat sake ook nie altyd kan bly soos dit was nie, staal ons onsself daarvoor en probeer om so positief as moontlik in die nuwe situasie te lewe.
Daar is egter een verandering in ons moderne wêreld wat vir ’n gelowige mens onaanvaarbaar is. Dit is die morele verval wat ons oral rondom ons sien plaasvind en waaraan ons skynbaar niks kan doen nie. Die wêreld was altyd sleg en die mense was altyd sondaars, maar nog tot in ons tyd het daar in die samelewing minstens bindinge bestaan wat aan die morele lewe ’n sekere fatsoen gegee het. Dit is tans vinnig besig om te verdwyn.
Dink maar byvoorbeeld aan die seksuele moraal. Dit het binne een geslag in duie gestort. Seksuele kuisheid is nie meer ’n waarde wat deur die gemeenskap as geheel as heilig beskou word nie. Die seksuele losheid van die jeug is ontstellend. Die huwelik het byna oud-modies geraak. Mense leef eenvoudig saam en los mekaar weer uit soos dit pas. Egskeiding is aan die orde van die dag.
Dit moet homself in die gesins- en openbare lewe wreek. ’n Geslag wat in gebroke huise grootgeword het of van kleins af geleef het in ’n situasie waarin die mees basiese menslike verhouding – diè van die huwelik – afgetakel is en die vrye liefde in rolprente, op video’s en op talle ander maniere as normaal voorgestel word, word met ’n onberekenbare agterstand groot.
Die morele lewe is ’n eenheid. ’n Mens kan nie een aspek daarvan aan vernietiging oorgee, en meen dat die ander in takt sal bly nie. Morele verval op een punt beteken uiteindelik die vernietiging van die moraliteit en van die lewe self mee. Die morele wette is nie willekeurige reëls van outydse mense wat nie geweet het wat die lewe is nie. Dit is wette wat God aan ons meegegee het vir die behoud van die lewe. Wie dit verwaarloos, betaal ’n prys daarvoor in die aftakeling van die lewe self.
Ons beleef die verskynsel dat die jeug in baie lande in morele verontwaardiging protesteer teen die verwaarlosing van die makro-moraal soos dit in die politieke en ekonomiese lewe neerslag vind. Dit moet as iets positiefs beskou word, want dit toon dat die morele besef nog bestaan. Dit sal egter betekenisloos bly solank dit gepaard gaan met ’n laksheid wat die mikro- of persoonlike moraal betref, omdat dit basies is vir die moraliteit as sodanig.
Die morele nood van die mensheid roep om ’n geestelike vernuwing wat deurtastend genoeg sal wees om ons tot in die fondamente van ons bestaan aan te raak. Daarvoor moet ons bly bid en werk. – WDJ