KERSTENING
Die Burger, 12 Augustus 1989
Ons is gewoond daaraan dat die term “Christelik” dikwels in ’n wye sin gebruik word, soos wanneer byvoorbeeld van ’n Christelike land of volk, of selfs van ’n Christelike kultuur gepraat word. In die wydste sin word soms selfs van die Christelike Weste gepraat in onderskeiding van ander dele van die wêreld wat dan as nie-Christelik getipeer word.
Die vraag kan met reg gestel word of dit sinvol is om die term “Christelik” so te gebruik. Dit moet vir elkeen duidelik wees dat dit in eintlike sin slegs gebruik kan word waar dit betrekking het op wat direk met Christus self verbonde is, soos van die evangelie of die kerk, of van individue wat persoonlik aan Christus verbind is.
Sodra die term in ’n wyer sin gebruik word, word dit vaag en dikwels betekenisloos. Dan word persone of dinge Christelik genoem wat miskien glad nie in enige betekenisvolle verhouding tot Christus self staan nie. Dit kan meebring dat die ware betekenis van Christenskap misken en vergeet word.
’n Hele gesin heet dan Christelik, hoewel miskien net enkele lede daarvan Christus persoonlik ken. ’n Hele gemeenskap heet Christelik, omdat die Christelike geloof ’n bepaalde invloed op die gemeenskap uitgeoefen het. Die kultuur heet Christelik, omdat bepaalde Christelike oortuigings vormend daarop ingewerk het.
Ons begin praat van Christelike waardes en Christelike sedes wat in die tradisie van ’n land of gebied neerslag gevind het, en ons noem daardie hele gebied dan Christelik, hoewel die meerderheid van die bevolking nie Christene in eintlike sin is nie.
Hierdie situasie kan gevaar inhou en misleidend wees. Mense wat Christus nie ken nie, kan hulleself as Christene beskou en gerus word oor hulle geestelike toestand as hulle maar net vashou aan enkele dinge wat tot die Christelike tradisie hoort. Hulle kan selfs roem oor hulle Christelikheid, terwyl hulle self nie verstaan wat dit is nie.
Tog moet die wyer gebruik van die begrip nie net negatief beoordeel word nie. Dit sou sektaries wees. Die Christelike boodskap bedoel wel die bekering en heiligmaking van individue, maar stuur ook af op die kerstening van die hele lewe. Ons gesins- en kulturele lewe, ons sedes en gewoontes, ons politieke en openbare lewe moet gestempel word deur die eise van Gods Woord. Daar is so-iets as Christelike waardes en ’n Christelike moraal wat behoudend in die samelewing as geheel kan inwerk.
Daarom moet ons nie so puristies wees, dat ons nie meer oog het vir die kerstening van die openbare lewe nie, omdat ons slegs die ware artikel wil, naamlik die persoonlike bekering en heiligmaking. Ons mag wel nie by die uiterlike bly staan nie, maar dit het tog waarde as tekens wat heenwys na die volle betekenis van Christus vir ons wil wees. – WDJ