Ons weet dit nie

ONS WEET DIT NIE
Die Burger, 19 Augustus 1989

Dit is verstandig om veel meer daarvan bewus te wees dat die beeld wat ander mense van ons het, ingrypend kan verskil van die beeld wat ons van ons self het.

Omdat ons ons self net van binne ken en uiteraard groot begrip het vir ons eie belange, motiewe en oorweginge, is dit begryplik dat ons meestal baie gunstig oor ons self sal oordeel. Dit is net natuurlik dat ons groot simpatie met ons self en ons eie gedrag, gewoontes en wense sal hê.

Ons oordeel oor ons self is feitlik altyd deur-en-deur subjektief, en meestal merk ons nie dat ons oordeel oor andere en oor die wêreld rondom ons ingrypend deur ons subjektiewe instelling en eiebelang bepaal word nie.

Maar ander mense kyk nie op dieselfde simpatieke wyse na ons nie. Hulle het elkeen hulle eie subjektiewe wêreldjie wat vir hulle belangrik is en wat ook weer hulle oordeel oor ons beïnvloed. Veel makliker as ons self sien hulle dus raak hoe verkeerd ons is, hoe selfsugtig, hoe ydel, hoe onbedagsaam, hoe behep met ons eie klein dingetjies en ons eie gerief.

Dit kan selfs spanning laat ontstaan tussen mense wat mekaar lief het. Dikwels kan ouer mense hulle kinders frustreer deur hulle vitterigheid, deur die eise wat hulle stel, deur hulle houding van beterweterigheid en geestelike trots. Maar hulle weet nie self hoe irriterend hulle is nie. Hulle dink hulle is maar net beginselvas en nog van die goeie ou soort.

Soms kan dit ook tussen Christene tot groot spanning lei. Mense wat hulleself as baie geestelik beskou, het dikwels byna ’n gawe om andere tot raserny te dryf met hulle getuienis oor die volheidslewe wat hulle deelagtig geword het, terwyl hulle self nie merk hoeveel doodgewone vleeslike trekke hulle lewe ontsier, en hoe dit by andere weersin en onvriendelike reaksies uitlok nie.

Die ergste is natuurlik dat mense soms nog geneig is om te dink dat hulle deur andere beledig word, omdat hulle so vroom is. Dan troos hulle hulself met die gedagte dat hulle ter wille van hulle geloof vervolging moet verduur, terwyl hulle nie weet dat dit hulle geaardheid of onbedagsaamheid kan wees wat die weerstand opwek nie.

Wanneer ons geneig is om hard oor sulke mense te oordeel, is dit egter verstandig om te onthou dat ons net so is. Ook ons weet nie hoe onuitstaanbaar ons self met ons eie soort maniertjies en ideetjies is nie. Daarom moet ons ons frustrasie met andere laat temper deur die wete dat ons ongetwyfeld ook ’n balk in ons eie oog het.

Maar nog meer: Ons moet bid om sensitiewer te word vir ons eie foute en verkeerdhede, meer beskeie en liefdevol, meer bereid om eerder aan andere as aan ons self te dink. As ons kan leer om minder oor ons self te praat en ander minder te vermoei met stories oor hoe oulik ons was of is, is dit ook al ’n groot wins. Die Gees maak ons bedagsaam en vriendelik, en daarvoor moet ons onsself oopstel. – WDJ