Harde woorde

HARDE WOORDE
WD Jonker
Die Burger, 26 Augustus 1989

Daar is dinge waaroor Jesus Homself baie skerp uitgespreek het. Een daarvan is godsdienstige skynheiligheid. ’n Mens verbaas jou oor die kras taal van Jesus teen die soort vroomheid van die geestelike leiers van die Joodse volk. Hy was wat dit betref, bepaald nie bang om aanstoot te gee nie.

Maar ’n mens kom by die lees van die Evangelies ook onder die indruk van die harde woorde wat Jesus gebruik het as dit oor materialisme en hebsug gegaan het. Dit is veral opvallend in die Evangelie van Lukas. Selfs ’n oppervlakkige kennisname daarvan sal ons oortuig dat Jesus geldgierigheid as van die grootste euwels in ’n mens se lewe beskou het.

Dink maar aan die gelykenis van die ryk dwaas (Lukas 12:13-21), of aan die gelykenisse van die oneerlike bestuurder (Lukas 16:1-13) en die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31). Rykdom en die liefde daarvoor word deurgaans uiters negatief gesien.

As Jesus oor die eise van dissipelskap praat, sê Hy nie net dat ’n mens van vader en moeder, broers en susters, vrou en kind, ja ook van sy eie lewe moet afsien as hy Hom wil volg nie, maar spesifiek ook: “So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie” (Lukas 14:33).

En as die Fariseërs wat “baie lief vir geld was” Hom uitlag oor sy stelling dat ’n mens nie God en Mammon (die geldgod) kan dien nie, sê Jesus vir hulle: “Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ’n gruwel voor God” (Lukas 16:13-15).

Ook die geskiedenis van die ryk jongman wat nie die keuse vir Jesus en teen sy aardse besittings kon maak nie, is hier sprekend, en Jesus se kommentaar daarby is: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom” (Lukas 18:18-25).

Ons moet nie te gou hierdie uitsprake afswak deur hulle teenoor ander gegewens in die Bybel te stel waarvolgens materiële rykdom ’n seën van God is nie. Natuurlik is dit waar, maar die kenmerk van die sonde is juis dat wat deur God as ’n seën bedoel word, vir ons tot ’n vloek word as ons verhouding daarteenoor verkeerd is.

Jesus het dit nie teen materiële dinge as sodanig nie, maar Hy het dit teen die sonde in ons, teen hebsug en selfsug en gierigheid. Geld verteenwoordig in die wêreld dikwels die mag van die sonde en verleiding, en daarom moet Christus se dissipels van die liefde daarvoor bevry word.

As materiële dinge vir ons die bepalende faktor in ons lewe word; as ons hele lewe en samelewing daarop ingestel is en daardeur beheers word; as ons ryk word ten koste van ander mense en hulle nood nie meer raaksien om dit te lenig nie – dan is geld ’n afgod (Efesiërs 5:5) wat tussen God en ons staan.

’n Mens moet jouself telkens afvra of tekens daarvan nie dalk ook by jou aanwesig is nie. – WDJ