WAARVOOR ONS MAG BID
Die Burger, 2 September 1989
Daar is geen saak wat ons lewe beweeg, wat ons nie in die gebed voor God mag bring nie. Al ons behoeftes en node, al ons sorge en begeertes, al ons vreugdes en leed mag in ons gebede uitgespreek word.
Tog is dit belangrik hoe ons dit doen. Ook die gebed kan misbruik word as ons die wese daarvan misken. Die gebed is na sy wese ’n eerbiedige, liefdevolle en gelowige omgang met God. Daarom spreek dit vanself dat ons uit respek en liefde vir God so moet bid, dat dit in ooreenstemming met die heiligheid, majesteit en goedheid van God is.
Dit beteken dat ons, wanneer ons tot God nader, moet besef dat ons nie maar enigiets van God mag vra nie. Ons mag byvoorbeeld nie iets van God vra waarvan ons weet dat dit sondig sou wees, in stryd met sy liefde en geregtigheid nie. Ons kan nie uit selfsug Gods seën vra op bedenklike praktyke nie. Dit sal ’n bespotting van God en die gebed maak.
Daarom moet ons as algemene riglyn aanvaar dat ons wel met al ons begeertes na God mag gaan, maar dat ons dan moet vra dat Hy ons begeertes slegs moet vervul as dit volgens sy wil is en soos dit volgens sy wil is. Jesus het ons geleer om in ons gebed te sê: Nogtans nie soos ek wil nie, maar soos U wil. Omdat God beter as ons weet wat reg en goed is, pas dit ons om in al ons gebede te vra dat sy wil moet geskied.
Die Ons Vader toon ons dat die heiliging van Gods Naam, die koms van sy koninkryk en die uitvoering van sy wil die vernaamste dinge is waarvoor ons moet bid, want dit is nie net tot die eer van God nie, maar ook tot ons beswil en tot diè van die hele wêreld.
Wanneer ons dus konkrete dinge van God vra met die oog op ons persoonlike begeertes en wense, angs en vrese, moet ons slegs vra waarvan ons seker is dat God ons dit volgens sy Woord graag wil gee; en wanneer ons onseker is of die dinge wat ons vra, aan hierdie maatstaf beantwoord, moet ons vra dat God sal laat gebeur wat goed is. Daarom kan ons bepaalde dinge wat ons begeer, nie sonder meer van God vra nie, maar moet ons dit in vertroue aan sy beskikking oorlaat.
Hierdie insig is van belang as ons bid vir die verkiesing wat volgende week plaasvind. Ongetwyfeld sal mense graag sien dat die party waarvoor hulle stem, goed moet vaar. Maar het ons die vrymoedigheid om sonder meer te bid dat ’n bepaalde party of kandidaat moet wen? Is ons nie almal maar kortsigtig nie? Is ons so seker daarvan dat ons motiewe so suiwer is dat ons met vrymoedigheid kan vra dat God ons wil moet laat geskied?
Moet ons nie liewer volstaan met te bid dat God sal gee dat die uitslag van die verkiesing vrede en geregtigheid in ons land sal bevorder, en dat Hy wat alles weet, moet laat gebeur wat die beste sal wees met die oog op die koms van sy koninkryk en die verheerliking van sy Naam nie? Kan ’n mens iets beter bid as dit? – WDJ