Vrede met onsself

VREDE MET ONSSELF
Die Burger, 9 September 1989

In die gejaagdheid van die lewe en in die oplaaiende spanning wat dikwels dreig om breekpunt in ons te bereik, smag ons dikwels daarna om net weg te kan kom uit ons omstandighede en êrens tot rus en stilte te kan kom.

Dit vanselfsprekend dat ’n mens so voel, en in groot mate is dit ook waar dat dit vir ons noodsaaklik is om soms van alles weg te kom en tot stilstand te kom. Maar dikwels is dit nie genoeg nie.

Dit kan wees dat ons opgejaag word deur vrees, angs en sorge wat nie vanself verdwyn as ons in ’n ander omgewing of onder ander omstandighede is nie. Veral as ons las het van een of ander vorm van depressie, is dit nie genoeg om net maar weg te kom en te dink dat ons sal herstel as ons ’n tyd lank nie hoef te werk nie.

Ons gedagtes reis met ons saam soos die spreekwoordelike spook wat saam verhuis, of soos die bose waarvan NP van Wyk Louw gedig het dat dit, as ons wil vlug uit die stad wat brand, saam met ons vlug soos ’n vrou aan ons hand.

Dikwels is dit so erg met ’n mens dat dit juis die ergste marteling vir hom kan word om uit die roetine van sy dagtaak met die gewone sleur, of uit sy vertroude omgewing weggehaal te word om met sy martelende gedagtes alleen te wees – dag en nag, totdat die angs hom tot aan die lippe styg.

Nee, wegkom en stilstand alleen genees ’n mens nie. Die kwaal lê in ons gedagtes, in ons siel, in ons gees. Dit is daar dat ons vrede moet vind. Daarvan kan ons nie wegvlug nie. As dit nie in ons tot ’n innerlike vrede en rus kom nie, kan ons maar na die uiterste eindes van die aarde vlug, dit sal nie help nie.

Augustinus het gesê dat God Homself vir ons gemaak het en dat ons hart onrustig in ons is, totdat dit rus vind in God. Dit is waar. Egte vrede en rus kan ’n mens alleen by God vind as jou hart tot rus kom in sy liefde en sorg, as jy alles wat jou kwel, aan Hom kan afgee en tot die basiese vertroue kan kom dat niks jou uit sy hand kan ruk nie.

In Psalm 139 sing die digter oor die alomteenwoordigheid van God en oor die liefdevolle wyse waarop sy hand ons omvat. Die geheim van rus en innerlike genesing is dat ’n mens gelowig tot rus moet kom in die wete van God se nabyheid, goedheid, vergewende liefde en almag wat jou lewe dra. Angs en sorg wyk van ons as ons weet dat ons aanvaar is, dat ons bemin word, dat ons lot in die hande van God veilig is.

Dikwels is mense psigies so verwond dat hulleself as oortuigde Christene hierdie rus vir ’n tyd kwyt kan raak en skynbaar doof word vir die troos wat andere hulle uit die Bybel probeer bied. Dan is deskundige hulp nodig. In die meeste gevalle is dit egter gelukkig waar dat ons self deur Gods genade uit ons angs die weg terug kan vind na sy beloftes en na die waters waar rus is, waar God ons siel verkwik. – WDJ