Verydeling

VERYDELING
Die Burger, 16 September 1989

Dit is deel van die tragiek van die menslike bestaan dat ons die edelste en mooiste ideale kan koester en dit ook kan najaag, maar dat dit telkens weer op verydeling uitloop.

Die aangrypendste voorbeeld hiervan kan ons daagliks aan die lyf ervaar: die frustrasie, lyding en verwarring wat so kenmerkend geword het van die moderne wêreld. Die moderne periode van ons Westerse geskiedenis begin immers in die 17de en 18de eeu met die deurbraak van die sogenaamde Verligting. Die Europese mens het die gevoel gehad dat hy homself losgemaak het van die donker Middeleeue, dat hy mondig en vry geword het van bygeloof en onkunde, en dat hy voortaan by die helder lig van die rede ’n goue toekoms van vryheid en geluk vir alle mense sou kon skep.

Hy het begeester geraak deur die optimistiese droom dat die mens deur sy beheersing van die aarde, deur sy wetenskap en tegniek sou kon doen wat die godsdiens blykbaar nie gedoen het nie: om die menslike lewe vry te maak van honger en armoede, tirannie en oorlog, sodat die goue tyd van vrede sou kon aanbreek in ’n utopie van vryheid, gelykheid en broederskap.

En inderdaad het die Westerse mens met sy rede veel bereik. Sy wetenskap en tegniek het die geheimenisse van die aarde oopgebreek en die mees fantastiese dinge het moontlik geword. Hy het selfs die hemelruim binnegevaar en kennis in ons woonkamers ingedra waarvan die mees geleerde mense van die pre-moderne tyd nooit gedroom het nie.

Maar het die mensheid gelukkiger geword? Het daar meer vryheid gekom? Is die honger en armoede nie groter as ooit tevore nie, en word dit nie juis deur wetenskap en tegniek geskep en gemanipuleer nie? Het die ou soorte verdrukking nie net plek gemaak vir ’n nuwe, pynliker soort nie? En het oorlog nie juis deur die tegniek apokaliptiese dimensies aangeneem nie? Dink maar aan die atoombom.

Die tragiek van die menslike lewe is dat daar in ons ’n innerlike verwording aanwesig is waardeur alles wat ons aanraak, besmet word. Die raaisel van die sonde kan nie opgelos word langs die weg van die rede, die wetenskap, die tegniek, wêreldordes of ideologieë nie. Daarom is daar ’n innerlike dialektiek in die geskiedenis wat meebring dat alles wat ons in eie krag probeer doen om onsself te red en te bevry, maar net weer daarop uitloop dat ons ou ellendes in ’n nuwe, verskerpte vorm terugkeer. Dit beteken nie dat ons wetenskap en tegniek moet verwerp of dat ons menslike beplanning en aktiwiteite wat op bevryding gerig is, moet nalaat nie. Maar dit beteken dat ons die relatiwiteit daarvan moet besef en moet verstaan dat die wortel van die kwaad te diep lê dat mense dit deur hul kundigheid of politieke aksies kan oplos.

Net God kan werklik red en bevry. Die evangelie is in die moderne wêreld nog net so aktueel soos altyd. – WDJ