Ons vergeet dit

ONS VERGEET DIT
Die Burger, 30 September 1989

Egte skuldbesef is ’n noodsaaklike voorwaarde vir bekering en lewensverandering. Daarom is die ontmaskering van ons sonde en die oproep tot berou en bekering so ’n wesenlike deel van die boodskap van die Bybel.

Die Bybel laat ons egter ook sien hoe moeilik dit vir ’n mens is om tot ’n egte besef van jou sonde te kom. Die oproep tot berou en bekering val dikwels op dowe ore. Die rede daarvoor is nie net dat ’n mens die Woord van God kan minag en jou ore daarvoor sluit nie. Dit is ook dat ’n mens met die Woord van God kan saamstem, maar net eenvoudig nie dink dat jy skuldig is aan die dinge wat dit veroordeel nie.

Ons verlorenheid beteken immers ook dat ons totaal blind kan wees vir ons eie sonde en die gevolge daarvan. Die sonde van andere sien ons goed genoeg. Ons kan selfs in morele verontwaardiging daarteen te velde trek. Maar ons eie sonde ken ons nie.

Dit hang onder andere daarmee saam dat ons ’n beeld van onsself het waarin alleen ons positiewe punte figureer. Ons goeie bedoelinge, ons ideale, billikheid en regverdigheid – dit is dinge wat vir ons besef tot ons selfbeeld behoort. Maar die negatiewe kante, die dwaasheid, liefdeloosheid, selfsug en oneerlikheid wat dikwels ons lewe beheers, verdring ons eenvoudig uit ons bewussyn.

Ons vergeet eenvoudig die talle kere waarop ons van ons eie ideale afgewyk het. Ons beskou die onreg wat ons gepleeg het, as ’n ignoreerbare glips wat nie inpas in die beeld van ons goeie karakter en voornemens nie. Ons verdring die herinnering aan ons bose motiewe en optrede na die dieptes van ons onbewuste. Ons reageer daarop asof ons nie self daarby betrokke was nie. Ons ignoreer die gevolge van ons dade en die pyn wat ons veroorsaak het, asof dit nooit plaasgevind het nie.

Daarom sit ons die woorde van God se oordeel oor die sonde en die oproep tot berou eenvoudig langs ons neer. Ons is selfs bly as ons hoor dat iemand waarsku teen die gevaar van ’n valse skuldbewussyn wat by ons opgewek kan word deur ons vyande. Want ons is mos nie skuldig nie. Dit is net mense met bose bybedoelinge wat op so ’n gedagte kan kom.

Wat ons nie merk nie, is dat ons nooit kan loskom van ons verlede en die wonde wat dit in ons morele en geestelike lewe geslaan het nie. Ons verdronge sondes en skandes het ’n diepingrypende invloed op ons. Dit bly ons optrede stempel. Ons bly daarin gevange. Al het ons dit verdring, andere sien die effek daarvan op ons.

As ons genees moet word, as ons nuwe mense moet word, moet ons daarvan bewus word en ons sonde bely. Daarvoor is ’n Godswonder nodig. Die Heilige Gees moet ons oë vir ons eie hart en verlede open. Ons moet herinner word aan wat ons al vergeet het. Ons moet bevry word uit die net waarin ons gevang is. Dit is verlossing. – WDJ