OM BEWUS TE LEWE
Die Burger, 7 Oktober 1989
Die grootste gedeelte van ons lewe gaan aan ons verby sonder dat ons dit bewustelik belewe het. Dit is of daar altyd iets anders is wat ons aandag boei en ons gevange hou, sodat ons nie die eenmalige betekenis van die konkrete momente van ons ervaring ten volle kan besef nie. Ons is slegs half-bewus betrokke by ons dae en jare, soos ’n mens betrokke is by ’n droom.
Baie keer sien ons eers as ons terugkyk hoe belangrik bepaalde tye en gebeurtenisse in ons lewe was. Lang tye van gelukkige en kommervrye bestaan het ongemerk aan ons verbygegaan soos groot wit wolke wat geruisloos deur die lug beweeg en dan verdwyn. Die dinge wat ons kosbaarste besittings is – die skoonheid van die aarde, die liefde van ons jeug, die aanhanklikheid van ons kindertjies, die gelukkige saamwees met mekaar – word dikwels deur ons hanteer asof dit vanselfsprekend is en altyd so sal wees.
Ons is soos mense wat hulle skatte onbewaak op straat laat lê en skynbaar dink dat dit nie opgepas hoef te word nie, omdat die voorraad onuitputlik is. Maar as die dief van die tyd dit van ons weggeneem het, ontdek ons eers die leegte van die hart.
Die belangrikste dinge wat met ons gebeur, die groot beslissings wat val, is dikwels verpak in situasies waarvan ons die ware karakter op die moment nie besef nie. Ons is nie daarop voorberei nie, ons beplan dit nie, ons bereken nie die konsekwensies daarvan nie: dit gebeur net met ons.
Dit is nie vreemd dat die digter van Psalm 90 op ’n nostalgiese wyse skryf oor die verganklikheid en kortstondigheid van die lewe nie. Dit is soos ’n enkele wagbeurt in die nag, sê hy, soos gras wat in die môre nog groen is, maar dan afgesny word en teen die aand verlep is en verdroog. Die sewentig of miskien selfs tagtig jaar van ons lewe gaan soos ’n gedagte verby.
Daarom bid hy ook dat God ons moet help om ons dae so te gebruik, dat ons wysheid mag bekom. Eintlik sê hy: Leer ons om ons dae so te tel, dat ons wyse harte mag bekom. Dit beteken dat ons ons dae in bewustheid moet beleef, dat ons suinig daarmee moet omgaan, dit nie verby moet wens of dit moet verspil nie. Daarvoor is die lewe te kosbaar.
Ons behoort elke dag met hierdie gebed te begin en ons self daarop in te stel om dit te sien as ’n eenmalige geleentheid waarvan ons die beste gebruik moet maak. Dit beteken nie net dat ons ons self moet oopstel om bewus te wees van wat om ons en met ons gebeur nie, maar dat ons ook moet verstaan wat die beste is wat ons vandag kan doen om sinvol te lewe.
Ons lewe sinvol as ons in liefde en onselfsugtigheid lewe, gevoelig vir die liefde en die nood van mense rondom ons; as ons ons hart tot God verhef en bewustelik met Hom wandel; as ons die waardes van die lewe reg takseer en die meeste gewig heg aan die dinge wat die kosbaarste is. – WDJ