Ons het nie altyd gelyk nie

ONS HET NIE ALTYD GELYK NIE
Die Burger, 14 Oktober 1989

Ons dink so maklik dat ons insig in die lewe en ons planne vir die oplossing van die probleme van die samelewing korrek is. Ons kan so oortuig daarvan wees dat ons die volle waarheid beet het, dat ons nie kan begryp dat mense wat anders as ons oordeel, eerlik kan wees nie.

Ons vermoed dikwels dat daar by hulle slegte motiewe aanwesig moet wees en dat hulle uit persoonlike belang die waarheid skeeftrek om hulle te pas. Ons beskou hulle nie net as dom nie, maar ook as boos, vyandig en selfsugtig, en verdink hulle daarvan dat hulle ons belange moedswillig ignoreer om hulleself ten koste van ons te bevoordeel. Daarmee bring ons dus mense se insigte en oortuigings met hulle morele integriteit in verband.

Hierin het ons nie ongelyk nie. Ons insig in die waarheid het altyd ook ’n morele dimensie. Dit kan dus waar wees dat diegene wat met ons verskil, op ’n selfsugtige wyse na die wêreld kyk en dat hulle oordeel oor waar en vals beïnvloed word deur hulle begeerte om hulle eie belange te bevorder. Die vraag is egter of dit nie met ons ook die geval is nie.

Die feit is immers dat alle mense meer met hulle hart dink as met hulle verstand. Ons verstand is nie ’n onafhanklike instrument wat objektief uitsluitsel oor die waarheid kan gee nie. Dit is ’n funksie van ons hele persoon met sy omstandighede, vorming, geskiedenis, wense en begeertes.

So-iets as ’n objektiewe oordeel oor die lewe met sy probleme bestaan nie. Ons oordele is altyd subjektief, gekleur deur ons belange en ideale, ons vrese en ons hoop. Eintlik sien ons die dinge soos ons hulle graag wil sien.

Op sigself is dit onafwendbaar en ook nie verkeerd nie. Dit beteken egter wel dat ons morele integriteit ’n geweldige groot rol by ons kennis van die waarheid en ons oordeel oor situasies speel.

As Christene weet ons dat die waarheid altyd ’n morele kant het. Of ons regtig objektief korrek oor sake kan oordeel, hang af van die vraag of ons ’n rein hart het of nie. Slegs vanuit ’n rein hart kan mense verby hulle eie selfsugtige begeertes kyk na die belange van alle betrokkenes.

Voordat ons dus te erg verontwaardig word oor ander mense wat selfsugtig is, moet ons onthou dat die pot die ketel in hierdie opsig selde kan verwyt. Ook ons dink dikwels met ’n selfsugtige hart. Ook ons het nie altyd gelyk nie. Ook ons kan egosentries wees en nie aan andere dink nie.

Hoe meer emosioneel ons oor die dwaasheid van andere se standpunte reageer, hoe versigtiger moet ons wees met die vraag na ons eie motiewe. Net ’n hart en gewete wat deur die Gees van God verlig is, kan werklik objektief na die dinge kyk, dit wil sê:  die werklikheid sien soos dit is, omdat dit nie uit selfsug die werklikheid interpreteer nie, maar vanuit die liefde. –WDJ