FANATISISME
Die Burger, 21 Oktober 1989
Dat die Christelike geloof implikasies vir ons politieke lewe het, is ’n waarheid wat geen Christen sal ontken nie.
Dit beteken nie dat ’n mens direk uit die Bybel kan aflees watter politieke maatreëls in ’n bepaalde situasie moet geld nie. Die Bybel gee nie aan ons konkrete politieke voorskrifte vir alle tye en situasies nie. Dit leer ons egter wat Gods wil vir die samelewing van mense is, en dit het uiteraard ook betrekking op die politiek.
Politieke maatreëls moet in elke situasie met insig en kundigheid getref word, sodat die beswil van die hele bevolking gedien kan word. Sulke maatreëls is altyd relatief van aard en vir verbetering vatbaar. Dit moet voortdurend getoets word om te verseker dat dit aan die eise van reg en geregtigheid beantwoord.
Maar daarom kan daar ook tussen Christene verskille voorkom oor watter politieke maatreëls die beste aan die morele eise van die Skrif voldoen. Daar is nie slegs een politieke resep wat Christelik is, terwyl alles wat daarvan afwyk, verwerplik is nie. Politieke maatreëls is nooit honderd persent goed nie, al bedoel ons dit ook hoe goed. In ons weerbarstige soort wêreld is daar hoogstens sprake van beter en slegter politieke oplossings, al wissel dit ook tussen baie goed en baie sleg. Volmaakte Christelike politiek bestaan nie.
Ongelukkig is daar altyd weer godsdienstige mense wat meen dat hulle politieke planne volmaak saamval met wat die Bybel gebied, terwyl alle ander standpunte uit die bose is. Dan stel hulle hul politieke ideale gelyk aan die koninkryk en die wil van God wat ’n mens bo alles moet soek.
Waar dit gebeur, kry die politiek ’n religieuse sanksie. Politiek en godsdiens val dan saam. Daardeur word die politiek verideologiseer. Dit loop noodwendig uit op ’n onhoudbare fanatisisme, want relatiewe politieke insigte word verabsoluteer en mense word bereid om hulleself in die Naam van God daarvoor op te offer, ongeag die gevolge.
In ons tyd word na hierdie tendens verwys as die “ajatolisering” van die politiek. Dit beteken dat die stryd vir die eie politieke ideale vereenselwig word met die stryd vir die saak van God. Politieke teenstanders word gesien as vyande van God wat uitgeroei behoort te word. Wie sy eie saak en God se saak so laat saamval, kan nie meer onderskei tussen sy eiegeregtigheid en God se geregtigheid nie.
Die vreeslikste voorbeeld daarvan was die oorlog tussen Iran en Irak. Maar Christene is aan dieselfde versoeking blootgestel. Mag God ons land daarvan bewaar! As ons uitgelewer word aan die apokaliptiese fanatisisme van godsdienstige dwepers, is die eer van God die eerste wat sneuwel. Wat aangedien word as ’n stryd vir geregtigheid, word dan maklik die grootste verkragting daarvan. – WDJ