Groot dinge kan gebeur

GROOT DINGE KAN GEBEUR
Die Burger, 28 Oktober 1989

Ons bid so dikwels sonder om werklik te verwag dat ons sal ontvang wat ons vra. Dit geld nie net van ons gebede vir ons self en ons persoonlike omstandighede nie, maar ook vir ons gebede vir ons land, vir die Christenheid of vir die wêreld.

Tog moet ons met verwagting daarmee rekening hou dat God die gebede van sy kinders wil beantwoord en dit dikwels doen op ’n wyse waaroor hulle alleen maar verwonderd kan wees. Dit kan lank duur en soms eers na ons dood gebeur, want God weet die beste hoe dit by sy raad en wysheid inpas.

Ons het egter geen rede om in ons gebede te verslap en te meen dat ons tevergeefs vir bepaalde sake bid nie. Selfs al gaan dit om dinge waarvan ons nie eers by benadering kan insien hoe God ons gebede daarvoor kan en sal verhoor nie, mag ons nogtans in die geloof lewe dat God groot dinge kan en sal laat gebeur, soos Hy belowe het.

In ons tyd maak ons wonderlike dinge mee waarvan ons nooit gedroom het dat dit sou kon gebeur nie. Die kommunistiese wêreld is besig om geweldige veranderinge te ondergaan. Wat vir ons dekades lank gelyk het na ’n onwrikbaar vaste vesting van diktatoriale onderdrukking en ateïstiese hegemonie, blyk skielik innerlik te verbrokkel.

Aanpassings moet in verskeie lande onder die druk van die burgers se wil tot vryheid gemaak word. Dit kan selfs wees dat daar nuwe geleenthede vir die geloof in God sal oopgaan. Ideologieë blyk uiteindelik nie so onverganklik en magtig te wees as wat ons vrees nie. Daar kan nog dinge in die wêreld gebeur waarvan ons moet sê dat dit ons drome oortref.

Sal ons dit alles maar net aan die ekonomiese wetmatighede toeskryf, of aan die onvernietigbaarheid van die menslike wil tot vryheid? Moet ons nie daaraan dink dat daar in baie lande en in baie gemeenskappe volhardend gebid is vir die Oosblok nie? Vir die geloof is dit duidelik dat die hand van God ook agter hierdie nuwe ontwikkelinge gesien moet word, en dit moet ons daartoe aanspoor om nog meer as tevore vir die betrokke lande te bid, dat hulle hierdie uur reg sal verstaan en benut.

Maar dit moet ons ook daartoe aanspoor om nie op te hou om vir die Weste te bid nie. Die Weste is op die oomblik in ’n greep van sekularisme gevange wat meebring dat daar in baie lande nog net ’n flou skynsel van die Christelike geloof oorgebly het. Die Westerse emansipasie – waarvan die Marxisme tog ook maar net een van die produkte is – het meegebring dat groot dele van die bevolking hulle van God losgemaak het en skynbaar geen besef meer het dat ’n mens nie van brood alleen kan lewe nie.

Maar sal ons nie hoopvol bly dat God ook daarin ’n wending kan bring nie? Vir God is daar niks onmoontlik nie. Ook in die Weste met sy materialisme en dekadensie kan daar ’n wending kom. En mag God ons dierbare land daarby nie vergeet nie! – WDJ