VERBLINDING
Die Burger, 4 November 1989
Dit bly aangrypend dat Jesus aan die kruis gebid het dat God diegene moet vergewe wat Hom gekruisig het, omdat hulle nie weet wat hulle doen nie (Lukas 23:34). Daarin sit verskillende elemente opgesluit waaroor ’n mens nie maklik uitgedink kan raak nie.
Een aspek daarvan is in elk geval dat dit ons laat besef dat Jesus verstaan het dat die mense in verblinding met Hom gehandel het soos hulle gedoen het. Hulle het letterlik nie geweet wat hulle doen nie.
Ongetwyfeld het allerlei motiewe by hulle ’n rol gespeel. Ons mag aanvaar dat daar diegene was, met name die godsdienstige leiersfigure, wat met groot geraffineerdheid die kruisiging van Jesus beplan en gereël het. Vir ons is dit duidelik dat dit onsuiwer en selfs onheilige motiewe was wat hulle daarby beweeg het, maar vir hulle eie besef was dit seker nie die geval nie.
Hulle het waarskynlik geredeneer dat Jesus met sy optrede en leer onrus en verdeeldheid gebring het en die gevestigde orde aangetas het. In hulle hoedanigheid as leiersfigure was dit vir hulle onaanvaarbaar. As hulle Jesus sou laat begaan en Hy ’n groot gevolg sou opbou, kon dit politieke gevolge hê. Die Romeine kon kom en die tempel sowel as die volk tot niet maak (Johannes 11:48). Vir hulleself en vir mekaar sê hulle dat nie hulle eie posisie of eer nie, maar die van die volk en ten diepste die eer van God vir hulle op die voorgrond staan. En hulle glo dit self.
Kajafas praat as hoëpriester as hy sê dat dit tot voordeel van almal sal wees as een man vir die volk sterwe en die hele nasie nie verlore gaan nie (Johannes 11:50). Dat hulle onbillik, afgunstig, haatlik en goddeloos teenoor Jesus opgetree het, kon hulle, vir sover hulle dit enigsins agtergekom het, rasionaliseer deur te sê dat hulle nou eenmaal nie anders kon nie. Hulle sou dit anders gewens het, maar dit was buite hulle beheer. En so besef hulle self nie hoe hulle eie-belang daarby in die spel was, of hoe hulle deur die boosheid van hulle hart gedryf word nie.
Maar dit beteken nie dat hulle daarom onskuldig was nie. Jesus bid vir hulle om vergiffenis. Hulle gebrek aan besef van wat hulle doen, hulle gebrek aan insig in die boosheid van hulle eie hart is klaarblyklik nie die maatstaf vir hulle skuld of onskuld nie.
Die feit dat ons onbewus meganismes hanteer wat ons skuld vir ons self bedek, maak ons nie onskuldig nie, maar maak ons posisie net soveel gevaarliker, hopeloser en skuldiger. Dit blokkeer ons pad na bevrydende selfkennis en die ontvangs van vergiffenis.
Jesus bid om vergiffenis selfs vir die wat nie hulle skuld besef nie. God beantwoord sy gebed as die Gees ons oë open om te sien hoe ons is. Eers as ons klaar vergewe is, besef ons werklik die diepte van die kwaad. Daarom kan net ’n mens wat vergewe is, ten volle berou oor sy sonde hê. – WDJ