Die rol van die kerk

DIE ROL VAN DIE KERK
Die Burger, 18 November 1989

Dat die kerk ’n roeping het om ’n versoenende rol in die huidige maatskaplike en politieke situasie in ons land te speel, lyk vanselfsprekend.

Tog is daar Christene wat anders redeneer. Hulle sê dat daar net van versoening sprake kan wees waar twee twistende partye albei skuld aan die konflik het. In so ’n geval moet die kerk inderdaad ’n bemiddelende rol vervul en hulle probeer beweeg om mekaar te vergewe en met mekaar versoen te word.

Volgens hulle is dit egter nie in ons land die geval nie. Vanuit die konsep van die klassestryd redeneer hulle dat dit hier gaan om ’n stryd tussen onderdrukkers en onderdruktes. Hier lê al die skuld by die een party. Nie versoening nie, maar bekering en herstel van die reg is hier ter sprake.

In die situasie, glo hulle, moet die kerk die kant van die onderdruktes kies. Hy moet die onderdrukkers teenstaan en die armes in hulle stryd om geregtigheid help. Voor die onderdrukkers hulle nie bekeer het of neergewerp is en die reg nie herstel is nie, kan die kerk nie ’n boodskap van versoening verkondig nie. Daarom moet die kerk betrokke raak in die stryd om politieke mag.

Hoe logies dit ook mag klink, dit is ’n oor-vereenvoudiging van die situasie en ’n vreemde hantering van die evangelie. Geen menslike situasie is ooit so ongekompliseerd dat alle probleme opgelos kan word as slegs een party hom sou bekeer of in ’n stryd tot oorgawe gedwing sou word nie.

Versoening moet langs ’n geestelike weg tot stand kom, die resultaat van nuwe insigte en verandering van gesindhede. Daarom kan nie gesê word dat dit eers moontlik is as alle onreg verwyder is nie. Dit klink na die redenasie dat die werklikheid nie deur denke en gesindhede verander word nie, maar dat veranderde gesindhede eerder die resultaat is van die verandering van die werklikheid deur die klassestryd.

Maar dis tog ’n miskenning van die krag van Gods Woord. Christene glo tog dat die Woord en die Gees van God mense se harte kan verander en versoening kan bewerk as die weg waarlangs onreg oorwin kan word. Hier lê die groot taak van die kerk, as hy ten minste nog in die krag van Gods Woord glo. Maar om hierdie taak te kan verrig, moet hy ’n posisie kan inneem waarin hy solidariteit met albei die betrokke partye kan handhaaf, en tog terselfdertyd krities kan wees teenoor die dinge wat die konflik en die onreg veroorsaak en toenadering in die weg staan.

As die kerk homself met een van die partye vereenselwig, ontneem dit albei die partye van ’n instansie wat buite die stryd staan en albei krities kan help om tot ’n nuwe benadering van die situasie te kom. Daarom mag die kerk sy solidariteit met alle mense – en in die besonder met die swakkes, lydendes en verdruktes – nie verstaan as roeping om self tot die politieke stryd toe te tree nie. – WDJ