Aanvaarding

AANVAARDING
Die Burger, 20 November 1989

Daar is baie dinge in ons lewe wat ons graag anders sou wou gehad het, maar waaraan ons niks kan doen as om dit maar net te aanvaar nie.

Niemand ontvang ooit alles waaroor hy gedroom het of waarvoor hy hom beywer het nie. Niemand is sonder teleurstelling nie. Niemand kan ontkom aan die besondere kwota pyn wat soms so onverwags ons lewe vervul nie.

Ons natuurlike reaksie is om daaroor te treur, om daaroor in opstand te kom, miskien selfs om verbitterd daaroor te word. Baie mense sukkel om hulle teleurstellings te verwerk. Dit kan meebring dat hulle ongelukkige, onvriendelike, onaangename mense word, wat nooit meer vrolik is nie.

Maar ’n gelowige mens behoort nie toe te laat dat dit in sy of haar lewe gebeur nie. Ons glo immers dat God oor alle dinge regeer en dat niks sal gebeur wat Hy nie so beskik het of in elk geval toegelaat het nie. Voor- en teëspoed kom uit sy hand tot ons, selfs al kan ons dikwels nie verstaan waarom Hy toelaat dat bepaalde dinge met ons gebeur nie.

Soms merk ons eers veel later dat wat vir ons aanvanklik ’n groot teleurstelling was, in werklikheid ’n bedekte seën was. Ons is immers kortsigtig, nie daartoe in staat om alle aspekte van ’n saak te sien of reg te beoordeel nie. Ons begeertes en reaksies is baie keer impulsief, die resultaat van verborge motiewe in ons self wat ons nie kan peil nie. Ons kan ook onmoontlik voorsien watter effekte bepaalde gebeurtenisse in ons lewe sal hê.

Daarom moet ons leer om God met ons lewe te vertrou en om ook die kwaad in ons lewe in goed te verander. Dit is nie altyd maklik nie. Selfs al probeer ons om die dinge te aanvaar wat vir ons swaar is, ontdek ons tog maar telkens weer hoe hartseer ons daaroor bly en hoe moeilik dit vir ons is om werklik te vertrou dat God dit ten goede kan gebruik.

Nog moeiliker kan dit vir ons wees om te aanvaar dat daar dinge met ons kan gebeur wat nie direk tot ons eie beswil sal wees nie, maar tot die van andere of tot bevordering van die saak van die Here. Daarvoor is dit goed as ons leer om ons oë op Jesus te hou, wat in Getsemane ook met God geworstel het en by Hom gepleit het om die bitter beker van Hom weg te neem. Maar die Vader kon dit nie wegneem nie, want sy hele heilsraad sou daardeur verydel word.

Natuurlik is ons nooit in dieselfde posisie as Jesus nie. Ons lyding kan nooit dieselfde betekenis hê as syne nie. Soveel as wat God van Hom gevra het, vra Hy ook nooit van ons nie.

Maar in die geringer dinge wat oor ons kom en waarvoor ons skynbaar tevergeefs bid dat God dit moet verander, kan sy voorbeeld en geloof ons dra om te aanvaar dat ons eenmaal die volle omvang van Gods raad beter sal verstaan as nou – selfs die deel daarvan wat op ons klein lewe betrekking het. – WDJ