Pynlike selfkennis

PYNLIKE SELFKENNIS
Die Burger, 2 Desember 1989

Daar is Christene wat dit voorstel asof groei in die geestelike lewe slegs daarin bestaan dat ons vreugde en blydskap steeds groter word en dat ons God steeds uitbundiger moet loof en prys.

Dit bevat onteenseglik ’n element van die waarheid. Hoe sou ons God nie voortdurend moet loof vir die groot saligheid wat Hy ons skenk nie? Is lofprysing nie die mees wesenlike element van die vernuwing van ons lewe nie?

Maar tog is dit nie waar dat die gelowige niks anders as die vrolike lofprysing van God ken nie. Dit sal eendag in die hemel so wees, maar tans is dit nog nie die geval nie. Dit sou die geval gewees het as ons ons ou sondige natuur in die moment van ons wedergeboorte heeltemal sou verloor het. Maar ons weet uit die Bybel dat dit nie die geval is nie, en ons ervaring bevestig dit.

Solank ons op aarde lewe, beteken groei in die geestelike lewe ook die groei in die kennis van ons self. Selfkennis is onafskeidelik aan ons kennis van God verbonde. Hoe beter ons God leer ken, hoe beter leer ons ook ons eie innerlike ken. En omdat ons van nature sondaars is, beteken verdieping in selfkennis noodwendig ook verdieping van ons kennis van ons sonde.

Sondekennis is nie maar net ’n verbygaande moment in ons bekeringsgeskiedenis nie. Dit is ’n blywende element in die proses van ons geestelike lewe. Ware bekering self is nie net iets eenmaligs nie. Dit is ’n lewensproses waarin die verdieping van ons sondekennis ’n belangrike plek inneem.

Dit het noodwendig ’n pynlike kant. Ons word nie net telkens weer herinner aan dinge wat ons vroeër gedoen het toe ons nog in onverskilligheid gelewe het nie. Ons word ook daarvan bewus dat daar nog steeds in ons lewe dinge is waaroor ons ons moet skaam.

Daarom het ons genoeg rede tot droefheid oor wat ons in ons hart ontdek. Dikwels moet ons ons hart in selfbeskuldiging voor God ontbloot, omdat daar in ons nog soveel weerstand teen sy genade is, soveel liefdeloosheid en afkeer van andere, soveel selfliefde, oneerlikheid en onreinheid.

Dit hoef nie ’n sieklike ingekeerdheid na binne te wees of voor te kom uit ’n onwil om op die krag van Gods genade te vertrou nie. Dit is ook ’n stuk nugterheid om te weier om deur outosuggestie by onsself ’n gevoel van vrolikheid op te wek wat nie klop met ons innerlike ervaring nie. Wie meen dat ’n kind van God geen skuldgevoel meer behoort te hê nie, kan maklik in die versoeking kom om homself te bluf deur sy skuldgevoelens te ontken.

Egte groei in die geestelike lewe word egter nie so bereik nie. Dit kom tot stand deurdat ons steeds volkomener op Gods genade vertrou, en dit is alleen moontlik as ons steeds dieper besef hoe nodig ons elke oomblik die reiniging van ons sondes het. – WDJ