VYANDE VAN ONS EIE GELUK
Die Burger, 9 Desember 1989
Dit lyk so voor die hand liggend om te aanvaar dat alle mense graag gelukkig wil wees. Waarskynlik is dit ook so. Die praktyk leer egter dat ons dikwels die vyande van ons eie geluk is deurdat ons dit saboteer en vernietig.
Dit is baie keer nie ander mense wat ons ongelukkig maak nie, maar onsself. Soms lyk dit asof ons begeerte na geluk deur ’n innerlike perversie in ons hart deurkruis word sodat ons tegelykertyd na geluk en ongelukkigheid soek.
Die daaglikse lewe bied talle voorbeelde hiervan. Miskien kan ons dit die maklikste by kinders opmerk. Soms speel ons met ’n kind ’n speletjie wat hy baie geniet. By ’n volgende geleentheid dring hy by ons daarop aan om dieselfde speletjie weer te speel. Maar die omstandighede is dan anders, en miskien het ons ook al vergeet hoe ons dit die vorige keer gedoen het. Gevolglik is dit net nie presies soos die kind dit in gedagte gehad het nie. So ’n kind kan dan uit teleurstelling in trane uitbars en van frustrasie op die grond neerval.
So ’n kind wil gelukkig gemaak word, maar net op een selfgekose manier. Anders skop hy liewer alles stukkend. Ons paai dan maar die kind omdat ons weet dat kinders tog maar kinderagtig is. Maar volwassenes kan presies dieselfde doen, deurdat hulle op ’n negatiewe en vitterige wyse altyd weer iets vind wat net nie presies is soos hulle dit wou gehad het nie en dan liewer alles inmekaar skop.
So kan die beste en mooiste geleenthede waarna hulleself en andere saam met hulle uitgesien het, vir almal versuur en verongeluk word net omdat alles nie presies verloop soos hulle dit graag sou wou hê, of dit vooraf voor hul geestesoog gesien het nie.
Maar dit bly nie beperk tot besondere geleenthede nie. ’n Mens kan elke dag genoeg redes vind om jouself ongelukkig te maak oor talle klein dingetjies wat nie tot die wesenlike van ons lewe behoort nie, maar waaraan jy ’n gewig toeken wat buite verhouding groot is.
In plaas daarvan dat ons ons oë daarvoor open om te sien wat ook vir andere goed en aangenaam is en ons daarin verbly, kan ’n mens ’n selfsugtige en negatiewe lewensinstelling ontwikkel wat altyd rede vind om onvergenoegd te wees.
Die Here Jesus het gesê dat die oog die lamp van die liggaam is. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal die hele liggaam donker wees (Matteus 6:22–23).
Die wyse waarop ons na die lewe kyk, het alles te make met die vraag of ons hart gesuiwer is van kinderagtige selfliefde wat eis dat almal net altyd na ons pype moet dans, anders skop ons alles aan flarde. Tog wil die Heilige Gees graag ons lewe met positiwiteit en vreugde vul. Hy doen dit deur ons uitkyk op die lewe te vernuwe. – WDJ