Met ‘n lag in die mond

MET ‘N LAG IN DIE MOND
Die Burger, 30 Desember 1989

As ons vandag oor die afgelope jaar terugkyk, kan ons nie anders as om te sê dat dit ’n buitengewone jaar was nie, ’n jaar van onverwagte en historiese gebeurtenisse. Dit sal in die geskiedenisboeke aangeteken staan as ’n jaar wat ’n ingrypende wending in die verloop van die wêreldgeskiedenis gebring het.

Die belangwekkendste gebeurtenis van die jaar is ongetwyfeld die veranderinge wat in die lande van die Oos-blok ingetree het. Die dramatiese openbaring van die suksesvolle innerlike verset teen die kommunisme in verskillende lande agter die ystergordyn en die onverwagte verkrummeling van die mag van totalitêre regerings was ’n asemberowende verrassing.

Berlynse muur
Die opbruisende drang na vryheid en die roep om ware demokrasie het skielik sterker as die onderdrukkende magte geblyk te wees. ’n Geweldlose revolusie het homself in lande voltrek wat tot nou simbole van diktatoriale heerskappy was. Sterker as enigiets anders het die simboliese aftakeling van die Berlynse muur daarvan getuig dat die einde van ’n era aangebreek het en dat ons voor ’n nuwe dag staan.

Dit alles beteken niks minder nie, as die mislukking en ineenstorting van die kommunisme as stelsel. Die kommunisme het in die afgelope dekades miljoene mense aan onbeskryflike onderdrukking deur ’n gesiglose en hartlose burokrasie onderwerp. Dit het met dwangmaatreëls en geraffineerde propaganda van mense oortuigde kommuniste probeer maak. Maar dit het klaarblyklik nie geslaag nie.

Vir miljoene mense in die wêreld het die kommunisme as die grootste bron van bedreiging en vrees gegeld. Dit het oral in plaaslike konflikte ingemeng, wapens verskaf en in die naam van diens aan die vryheid meegewerk om onderdrukkende regerings aan bewind te help stel. Ons het onder die indruk gekom van die geweldige mag van die kommunisme, ideologies en militêr, en van die byna sataniese drif waarmee dit die onderwerping van die wêreld aan die mag van ’n ateïstiese en materialistiese ideologie nagestreef het.

En nou blyk dit skielik dat ook hierdie afgod kleivoete het. Ons mond is gevul met ’n lag, ons hart met ’n diepe sug van dankbaarheid teenoor God!

Ideologiese stryd
Watter gevolge dit alles vir die situasie in die wêreld gaan hê kan nog nie voorsien word nie. Maar dit sal noodwendig ’n groot invloed hê. Die bekoring wat die kommunisme vir baie in hulle eie stryd om bevryding ingehou het, het ’n ernstige knou gekry. Die vrees vir kommunistiese inmenging in streekskonflikte het afgeneem. Daarmee saam is die swakheid van die sosialisme geopenbaar. Die naïwiteit van die geloof dat sosialisme die oplossing van alle probleme rondom armoede en rykdom sou wees, is genadeloos ontmasker.

Dit is vanselfsprekend van groot betekenis vir ons land. Dit bied aan ons die geleentheid om met minder vrees vir militêre inmenging van buite en met ’n groter hoop op nugterheid ons eie probleme aan te pak. Terselfdertyd moet ons ook besef dat die vryheidsgees aansteeklik werk, en dat die tyd vir die oplossing van ons eie politieke probleme deur die resente gebeurtenisse dramaties verkort is.

Daarby moet ons ook duidelik insien dat vanjaar se gebeurtenisse nie beteken dat die mag van die Marxisme as denkwyse drasties aangetas is nie. Die kommunisme is per slot van rekening maar net ’n bepaalde vormgewing van die Marxisme, waarvan al dikwels gesê is dat Marx self nie die element van dwang en onderdrukking wat deur die Leninisme daaraan verbind is, sou goedgekeur het nie. Van die skerpste kritiek teen die onderdrukkende aard van die kommunisme kom juis van neo-Marxiste. Die ideologiese stryd rondom die Marxisme sal dus onverpoos voortduur.

Die kerk
Ook moet nie verwag word dat die mislukking van die kommunisme noodwendig ’n groter kans aan die Christelike geloof sal bied nie. Ons mag wel op groter godsdiensvryheid in die Oos-blok hoop. Miskien sal die rol wat die kerk in Pole, Oos-Duitsland en elders in die afgelope tyd gespeel het, tot ’n groter erkenning van die plek van die kerk lei. Maar die ateïsme is in die hele Europese wêreld, Oos en Wes, reeds so sterk, dat die kerk daar voor ’n groot taak staan.

Ons kan dankbaar daaroor wees dat die saak van vryheid in die afgelope jaar ’n sprong vorentoe geneem het. Maar die saak van politieke vryheid val nie saam met die saak van die koninkryk van God nie. In ons Oujaarsgebed sal ons God seker wil dank vir elke muur van Jerigo wat in hierdie jaar geval het. Maar ons sal ook moet bid dat hierdie tyd ’n nuwe geleentheid vir die kerke in Europa en in die hele wêreld sal word om duideliker as ooit te vore die evangelie van Gods bevrydende genade te verkondig.

Uiteindelik kan die probleme van mense se persoonlike lewens en van die wêreld nie deur ideologieë of stelsels opgelos word nie, maar alleen deur die bevryding wat kom deur die verlossende krag van die evangelie. Ons vreugde oor wat vanjaar gebeur het, is nog niks in vergelyking met die vreugde wat daar in die hemel sal wees oor elke sondaar wat hom bekeer nie. – WDJ