KERK TUSSEN KONINKRYK EN KULTUUR
Ongedateer
- Die formulering van ons onderwerp bied ’n uitstekende tipering van die situasie van die kerk van Christus in die wêreld: die kerk is inderdaad tussen koninkryk en kultuur. Want die kerk is na sy wese op die allerinnigste wyse verbonde met die koninkryk van God. Dit die vrug van die inbraak van die van die koninkryk van God in hierdie wêreld, teken van die koninkryk en instrument van die koninkryk. Terselfdertyd moet egter direk gesê word dat die kerk sy bestaan in hierdie wêreld het, die wêreld van die mensheid met geskiedenis en kultuur. Die kerk word nie net deur die koninkryk uitgeroep uit die wêreld nie, maar ter wille van die koninkryk ook weer teruggestuur in die wêreld om juis daar, in die mensewêreld met sy geskiedenis en kultuur, getuie van Gods koninkryk te wees. En so bestaan die kerk dan inderdaad tussen koninkryk en wêreld, of anders uitgedruk: Tussen koninkryk en kultuur.
- Die kerk se roeping is om die in die wêreld te soek, te verkondig en te dien, om tekens van die Koninkryk in die wêreld op te rig en die wêreld daaraan te herinner dat hy God se wêreld is. As sodanig het die kerk nie primêr ’n kulturele roeping of opdrag nie, maar ’n geestelike roeping, nie om die heerskappy van Christus oor hele lewe te proklameer. Die kerk is werklik nie kultuurorganisasie nie. Die kultuuropdrag is nie aan die kerk gegee nie, maar aan die mensheid as sodanig. Omdat die kerk egter in die wêreld bestaan en in die hele wêreld van die koninkryk van God moet getuig, kan die kerk homself ook nie van die kultuur losmaak nie. Dit is nie net dat die kerk nie anders kan bestaan as in die wêreld en in die kultuur nie; die kerk het ook met betrekking tot die kultuur die opdrag om die lig van Gods Woord daarop te laat val en van die heerskappy van God oor alle dinge, ook oor die kulturele lewe van die mens te getuig.
- Die kerk leef midde in die kultuur en die geskiedenis, maak gebruik van die kultuur, word inheems in die kultuur en word in sy leefwyse en uitdrukkingsvorme, selfs in die terme en konsepte waarin hy sy geloof verwoord, deur die kultuur gestempel. Die kerk kan nie anders nie, as om altyd in ’n mindere of meerdere mate kontekstueel te word op die spesifieke plek en in die spesifieke kultuur en kulturele klimaat waarin dit bestaan. Die kerk is nie ’n produk van die kultuur nie en gaan ook nie op in die kultuur nie. Sy taak nie om die kultuur te bevorder en te bewaar nie. Maar die kerk moet in die kultuur ingaan ten einde die mense te bereik binne die kulturele konteks waarin hulle lewe. Hy moet, om die mense werklik te bereik waar hulle is en om werklik deur hulle gehoor en verstaan te word, gebruik maak van hulle taal en kulturele uitdrukkingsvorme. Hy moet selfs die evangelie min of meer “vertaal” in hulle kulturele uitdrukkingsvorme om dit vir hulle werklik relevant te laat wees. Dit het in die loop van die geskiedenis meegebring dat die kultuur dan deur die Christelike waardes gestempel en “gekersten” kon word, sodat daar met ’n knippie sout sprake kan wees van so-iets as ’n Christelike kultuur, ’n Christelike land, die Christelike Weste, ens.
- Die kerk moet egter van die kultuur gebruik maak soos die Christen van alle dinge in die wêreld gebruik moet maak – d.w.s. sonder om sy vryheid daarteenoor te verloor of sy kritiese sin daarteenoor prys te gee (1 Korintiërs 7). Hy mag hom nie daardeur laat beperk of laat dwing om sy katolieke karakter te laat vaar, asof hy nie ook op ander plekke en in ander kulture kontekstueel bestaan en inheems geword het nie. Hy mag nie toelaat dat die kultuur norme aan hom stel wat sy karakter as kerk van Christus in enige sin in die gedrang bring nie. In die geskiedenis het dit egter geblyk dat die kultuur altyd weer invloed uitgeoefen het op die kerk se verstaan en hantering van die evangelie. Die inheemswording van die kerk het altyd ook weer beteken dat bepaalde aanpassings van die evangelie, bepaalde vorme van verkorting van die evangelie ingetree het. Dit is waar dat die kerk by die kultuur moet aansluit om sy roeping te kan vervul. Daarmee is die relevansie van die kerk ten diepste gemoeid. Die kerk kan alleen daarin slaag om mense te laat verstaan dat die evangelie die antwoord bied op reële vrae van hulle lewe, as hy aansluiting vind by hulle leefwêreld, en dit beteken ook aansluiting by die kultuur van daardie mense in die wydste sin van die woord. Maar die kerk moet ’n geopende oog daaroor hê dat dit hom ook ’n prys kan kos en kan meebring dat die evangelie, indien nie naarstig daarteen gewaak word nie, deur bepaalde aspekte van die kultuur gekortwiek kan word.
- Kultuur is wesenlik ’n wisselende, ontwikkelende en veranderde grootheid. Dit beteken dat die verhouding tussen kerk en kultuur ook deur bepaalde spannings gekenmerk word wat met hierdie aard van die kultuur te make het. Die kerk werk met die “ewige evangelie” en is geneig om ongemerk die kultureel-bepaalde uitdrukkingsvorme van die Christelike geloof wat eenmaal tot stand gekom het, as net so ewig as die evangelie te beskou. Die kerk het ’n ingeboude neiging tot behoudendheid en raak daarom maklik by die kulturele ontwikkeling, sodat hy nie meer merk dat, soos hy eenmaal homself in ’n bepaalde fase van die kultuur ingestel het, hy dit ook met verandering van die tye en kulturele situasies moet bly doen nie. Dit kan spanning meebring tussen kerk en kultuur en die idee laat ontstaan dat die “moderne mens” van elke tyd nie meer tuis is in die kerk as die historiese grootheid nie. Dikwels word hierdie oortuiging van albei kante gedeel, wat meebring dat die kerk se relevansie vir die mens in ’n bepaalde kulturele fase kan verloor. Dan word dit noodsaaklik dat die kerk weer oog daarvoor moet ontvang dat hy bereid moet wees om opnuut die moeisame weg te bewandel om tot die mens van die nuwe tyd te spreek. Hierdie verskynsel is nie net iets van die Christendom nie; maar van alle groot godsdienste. In die Weste het dit egter besonder moeilike tye vir die Christendom en kerk tot gevolg gehad.
- Die teologie het ’n groot rol om in hierdie verband te speel. In ’n sekere sin lê die teologie die band tussen die evangelie en die kultuur ten dienste van die kerklike verkondiging. Daarom staan die teologie dikwels op die voorpunt by die beantwoording van die vraag hoe die kerk sy kontak met die kultuur kan behou en die evangelie op ’n wyse kan verkondig wat aansluit by die kulturele situasie van diegene tot wie die prediking uitgaan. Dit is uiteraard ’n riskante taak en het in die geskiedenis beteken dat die kerk dikwels op ’n gespanne voet met die teologie verkeer het. Die kerk kry dikwels die indruk dat die teologie die waarheid van die evangelie kompromitteer in ’n poging om in ’n spesifieke historiese en kulturele situasie relevant te wees. Soms het die kerk ook hierin gelyk. Die geskiedenis van die Westerse Christenheid sedert die Verligting van die 18de eeu, is blywend deur die spanning gekenmerk.
- Dit is noodsaaklik dat ons onsself spesifiek besig hou met die vraag na die verhouding van die Ned Geref Kerk tot die kultuur. Om daaroor op ’n sinvolle wyse te kan praat, moet ons eers vra wat die kulturele konteks is waarin die NGK sy roeping moet vervul. Uitgaande daarvan dat die NGK homself tot betreklik onlangs hoofsaaklik verstaan het as kerk van Christus onder die Afrikanervolk, is dit noodsaaklik dat ons moet onthou dat die kulturele konteks waarin die NGK homself bevind, dus eintlik deur drie sirkels beskrywe word. Eerstens beskou die Afrikanervolk homself as deel van die Weste met die algemeen-Westerse kultuur. Tweedens het die Afrikaanse volk ook ’n eie Afrikaner-subkultuur en histories-bepaalde leefwêreld waarbinne die kerk inheems geword het. Derdens leef die Afrikanervolk in ’n Derdewêreld-konteks, wat beteken dat die Afrikaner se kultuur daardeur beïnvloed word en dat hy voor die noodsaak gestel is om oor sy eie kulturele grense uit te reik ten einde met sy omgewing te kan kommunikeer. As ons wil praat oor die NGK onder die tema van kerk tussen koninkryk en kultuur, beteken dit dat ons die vraag moet beantwoord hoe die NGK daarin slaag om op sodanige wyse by die kultuur in die drie-dubbele sin aan te sluit, dat hy vir die Afrikaner in hierdie situasie werklik die boodskap van die koninkryk van God relevant kan bedien en hom kan help om met Christene uit die Derdewêreld-konteks betekenisvol te kan kommunikeer. Hierdie laaste aspek sal ons hier verder laat rus, omdat dit ’n omvattende saak is. Dit beteken egter nie dat dit nie uiters belangrik is nie. As die NGK werklik inheems moet word in Afrika kan hy nie uit eie vrye keuse besluit om net in een sub-kultuur inheems te word nie, maar moet hy ook inheems word in die hele spektrum van die kulturele situasie van hierdie land.
- Wat die Westerse kultuur betref, moet ons dadelik begin by die beslissende kulturele breuk wat in die geskiedenis in die 18de eeu plaasgevind het. Dit het vir die kerk ingrypende gevolge gehad. Die sg Verligting word gewoonlik getipeer die mondigwording van die mens, en ons kan dit beskryf as ’n proses van emansipasie wat hom in die Westerse gees voltrek het. Die besef van sy outonomie het vir die Westerse mens beheersend geword, en dit het gelei tot ’n proses van sekularisasie waarin die vanselfsprekende religieusiteit van die Middeleeuse kulturele situasie agtergelaat is. Die grondbeginsel van Verligting is die vryheid, wat die mens aan die een kant bevry van alle vreemde gesag, onder andere die gesag van die natuurnoodwendighede deur die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie, maar ook van die gesag bygeloof en obskurantisme wat die gees van die Middeleeuse mens verkneg het. Dit het ook tot gevolg gehad dat die mens homself vrygemaak het van die gesag van God, Bybel en die kerk. In die plek van die dogma kom die mens se insigte in die sinvolle samehang van die werklikheid. In die agtiende eeu glo moderne mens nog aan God en ’n redelike godsdiens, maar in die 19de eeu kry ons die tweede fase van die Verligting, wanneer die religie self onder kritiek gestel word as bron van die mens se vervreemding (Feuerbach en Marx). Die bedoeling daarvan is dat die mens dan vry moet van God en die verantwoordelikheid vir sy eie wêreld moet aanvaar. Die geskiedenis van die Westerse kultuur sedert die Verligting is in sy geheel gesien ’n bevrydingsgeskiedenis. Die moderne mens wil vry wees van alles wat hom nog in die wêreld verslaaf. Die daad-karakter van die menslike bestaan kom daardeur op die voorgrond, die praxis verkry die primaat bo die teorie. Die geskiedenis van die voortgang van die Verligting in die Weste is ’n revolusionêre geskiedenis. Die wat konklusie wat dikwels uit die aard van hierdie geskiedenis getrek word, is dat die religie steeds meer sal verdwyn en dat die kerk sy relevansie vir die Westerse mens totaal sal verloor.
- Daar is talle tekens dat hier die verwagting gedeeltelik waar geword het. Die kerk het geestelik baie van sy betekenis in Europa verloor en dit is ’n proses wat besig is om steeds verder voort te gaan. Vir die besef van vele hoort kerk en godsdiens tot die kultuur van ’n verbygegane era, maar nie meer tot die kultuur van die moderne mens nie. Tog is dit duidelik dat die kerk en veral die teologie hulle nie daarby neergelê het nie, maar teruggeveg het, veral ook vanuit die oortuiging dat die evangelie nie aan een kulturele fase van die mensheid gekoppel mag word en saam daarmee onder moet gaan nie. Die reaksie op die Verligting het verskillende gestaltes aangeneem:
(a) dié van die konserwatisme wat eenvoudig die Verligting verwerp en bestry het, maar met die resultaat dat die kerk in ’n groot mate sy relevansie vir die breë lae van die bevolking verloor het;
(b) dié van die piëtisme wat gedeeltelik reeds die moderne gees in hulleself opgeneem het (hulle individualisme en subjektivisme), maar hulle verder op en die innerlike en die religieuse ervaring terugtrek en dus in ’n groot mate die Verligting aan homself oorlaat, of saam met die konserwatisme daar teen stry;
(c) dié van die liberale teologie wat vir die eerste keer probeer om by die nuwe kultuursituasie aan te sluit (dink veral aan Schleiermacher), maar wat in ’n groot mate die evangelie kompromitteer en so die invloed van die evangelie op die kultuur verminder, omdat eerder by die kultuur aangepas as aangesluit word;
(d) dié van die sg neo-ortodoksie of midde-ortodoksie wat probeer om die nuwe kulturele situasie aan te sluit en dit te verwerk, sonder om die evangelie prys te gee, en wel in dié sin dat die ideaal van die Verligting (die emansipasie) aanvaar word, maar in die lig van die evangelie geïnterpreteer en gevul word;
(e) dié van die politieke teologie wat reageer op die godsdienskritiek en die Christendom wil laat inhaak op die tweede fase van die Verligting deur uit te gaan van die primaat van die praxis bo die teorie ook in die kerklike lewe en die oortuiging dat die kerk alleen relevant kan wees vir die mens van vandag as dit self betrokke is by die politieke bevrydingsgeskiedenis van die mensheid wat konkreet beteken dat die kerk die kerk van die verdruktes moet word en die revolusionêre bevrydingstryd moet steun.
- As ons hierdie reaksies moet evalueer- in die lig van wat ons hierbo oor die verhouding van kerk en kultuur gesê het, dan is dit duidelik dat die kerk nie die kultuur kan ignoreer nie en dat ons dus van mening wees dat die opsies van die konserwatisme en die piëtisme, ondanks die groot betekenis wat dit origens in die geskiedenis van die afgelope drie eeue gehad het, in ’n groot mate as ontoereikend beskou moet word. Die kerk kan nie maar net negatief teenoor die Verligting en die emansipasie van die moderne mens staan nie, en die betekenis van die evangelie mag nie beperk word tot die innerlike bevryding van die individuele mens nie. Die evangelie beoog inderdaad die totale bevryding van die totale mens. Aan die ander kant is ook die opsies van die liberale teologie en die politieke teologie ontoereikend, omdat hulle albei, elkeen op hulle eie wyse, die kerk te veel by die kultuur aanpas en dus nie meer krities genoeg teenoor die algemene tendense van die staan nie. Die relevansie van die kerk word nie daardeur gedien as die kerk (en die teologie) maar net herhaal wat mense ook al uit ander bronne ook kan weet, en dit dan net religieus motiveer nie, omdat dit dan nie duidelik is dat die evangelie ’n vreemde karakter in die wêreld dra omdat die vreemde en eskatologiese heil verwoord wat nie menslik maakbaar is nie.
- Dit wil inderdaad voorkom of die opsie van die sg neo-ortodoksie of midde-ortodoksie die vrugbaarste is. Dit gaan vir ons nie om die inhoudelike van die teologie van die verskillende verteenwoordigers van hierdie rigting in die geskiedenis nie maar om die beginsel daarvan. Die karakter daarvan is dat dit wil aansluit by die moderne kultuur, maar daardie kultuur in die kritiese lig van die openbaring van God stel. Dit besef dat ons die Verligting nie ongedaan kan maak nie en gaan uit van die feitelikheid daarvan as die konteks waarbinne die mens met die evangelie aangespreek moet word. Maar dit draai die Verligting in sekere sin op sy kop om deur die waardes waarby die Verligting wil lewe, onder die tug van die openbaring van God te bring. Dit is ’n uiters kritiese en daarom moeilike soort teologie, maar die enigste soort teologie wat werklik vrugbaar is. Ons neem hierdie begrip in wye sin op en dink dus nie net aan Barth en sy medestanders nie, maar aan almal wat ’n “geloofskritiese” (Haijema) teologie wou beoefen waarin die gesag van die Woord van God teenoor die selfgenoegsaamheid en positivisme van die menslike rede gestel word. Dit is ’n teosentriese denke in teenstelling tot die antroposentrisme van die moderne denke, maar ’n teosentrisme waarin vir die mens in sy verhouding tot God ruimte gemaak word, en dus ook vir sy kultuur. In die NGK besef ons te min watter worsteling daar ook by behoudende teoloë plaasgevind het om – soos Kuyper dit gestel het – die gereformeerde belydenis “in rapport te brengen” met die stand van die kultuur van die eeu waarin ons leef. Ons kan ingrypende kritiek hê op die wyse waarop Noordmans, Barth, van Ruler en andere, hierdie weg probeer bewandel het, maar uiteindelik moet ons erken dat die prinsipiële keuse wat hulle hierin gedoen het, blykbaar die enigste moontlike is.
- Vir die NGK beteken dit alles dat ons die vraag moet stel hoe die NGK homself verantwoord tov van sy kulturele konteks soos ons dit hierbo het. Miskien moet ons dan vra of die Suid-Afrikaners ( en meer spesifiek die Afrikaners) Westers is wat hulle gees, mentaliteit en waardes betref. Duidelik is in elk geval dat ons isolasie ’n groot rol gespeel het en dat die sekularisasie nie by ons so ver voortgeskryf het as in Europa en selfs Amerika nie. Tog is die wêreld vandag in ’n groot mate een, en sal ons onsself op die lang duur nie aan die vraag kan onttrek hoe ons op die moderne kulturele situasie moet reageer nie. Die NGK staan in Suid-Afrika in ’n situasie wat deur Boerwinkel in sy boekie, “Einde of nieuw begin” getipeer word as ’n tyd van groot oorgange. In elk geval is dit die einde van die agrariese tydperk, die Konstantynse tydperk, die renaissancistiese tydperk, die tydperk van die blanke supremasie en manne-heerskappy. In SA merk ons van sommige van hierdie dinge nie so veel nie, maar van ander wel. SA is kultureel en andersins die laaste vesting van ’n verbygegane kultuurfase en wêreldorde. Daarom klots die golwe van die toekoms so hard teen ons wande, en dit is maar ’n kwessie van tyd voordat die situasie in ons land radikaal anders sal word as wat dit tans is. Die vraag is of die NGK voorbereid is daarvoor, en enige verbintenis met die Afrikanerkultuur nie vir hom ’n oorsaak van irrelevansie kan word nie. Die merkwaardige is dat die Derde Wêreld in hulle sug na vryheid en die tendense van die moderne Westerse kultuur mekaar op beslissende punte ontmoet, en dit staan lynreg teenoor wat die Afrikaner vir homself begeer en wat die NGK eintlik as sy leefklimaat beskou het. Die NGK leef in ’n anti-revolusionêre gees – miskien nie soseer uit beginsel oortuiging nie, as op grond van pragmatiese oorwegings vanweë sy verbondenheid aan die Blanke en sy situasie – en dit staan haaks op die hele tendens van die Westerse moderne kultuur. Die geestelike isolasie van die NGK kan op die lang duur byna onuithoubaar word.
- Die groot uitdaging waarvoor kerk en teologie in ons land vandag staan, is om die wydheid te ontwikkel om hierdie situasie onder oë te sien en om in ’n tyd van groot kulturele en politieke veranderinge die moed te hê om die evangelie as evangelie van die koninkryk te verstaan en te verkondig. In hierdie opsig kan ons baie by Barth leer. Hy het nie teen die vryheidstendens van die moderne tyd ingegaan nie, maar dit in die lig van die evangelie gestel. Ons mag besluit om dit op ’n ander wyse te doen as hy, maar ons sal geen ander prinsipiële keuse as dit hê nie. Daarom sal ons ook nie daarby verby kan kom om tot insigte deur te breek wat in die Westerse teologie na die Tweede Wêreldoorlog steeds meer na vore gekom het nie, soos met name (a) dat die kerk na die wêreld toegewend moet wees: kerk vir die wêreld (Barth); (b) dat die kerk na buite gerig moet wees in diens en selfloosheid as kerk vir andere (Bonhoeffer); (c) en dat die kerk die legitieme element in die politieke teologie sal moet oordink; en daaroor ’n standpunt moet inneem, nl dat die kerk ’n besondere roeping het mbt diegene in armoede, lyding en verdrukking. Die groot kuns is om hierdie elemente op sodanige wyse teologies te bedink, dat ons daarin vry bly van die verbuiging wat dit elders ontvang. Die NGK het teologies ’n geweldige taak om homself los te maak uit die bindinge waarin hy geraak het, sodat hy ten volle kerk van die koninkryk kan wees, in staat om ook oor die ideologiese grondslae van die teologie van andere te oordeel, omdat hy homself losgemaak het van ideologiese invloede. Dit is ’n geweldige uitdaging waaraan ons nog maar net begin dink het. Daar sal veel moed voor nodig wees om in hierdie opsig werklik kerk van Christus in die volle sin van die woord te wees – kerk tussen koninkryk en kultuur.