Persoonsgerig

PERSOONSGERIG
Die Burger,
7 Julie 1990, bladsy 10

Die begrip liefde word dikwels in ons samelewing misbruik vir wat nie werklik liefde is nie, maar hartstog, drif, begeerte en emosie. Dit is soos ’n knetterende vuur wat uitbrand om slegs ’n hopie as op die vuurherd te laat.

Dit is begryplik waarom dit liefde genoem word, want dit gaan gepaard met ’n gevoel van aangetrokkenheid tot en bekoring deur iets wat ’n mens begeer en waarvan jy voel dat jy nie daarsonder kan klaarkom nie. As daardie iets aan ’n bepaalde persoon verbind is, kan ’n mens maklik dink dat jy daardie persoon liefhet, terwyl jy miskien nie die persoon as persoon liefhet nie, maar van haar of hom slegs die vervulling van ’n behoefte begeer. En as daardie behoefte bevredig is of die bevrediging teleurstelling bring, verdwyn ook die sogenaamde liefde.

Egte liefde is egter iets anders. Ook dit is bekoring deur en aangetrokkenheid tot die voorwerp van die liefde. Dit word egter nie slegs aangevuur deur ’n behoefte en begeerte wat om bevrediging roep nie, maar word terselfdertyd gedra deur ’n besef van die eie waarde van die voorwerp van die liefde. Dit bring respek daarvoor mee. As dit om ’n persoon gaan, beteken dit dat daardie persoon as persoon waardeer en gerespekteer word. Daar kom ’n stuk verering in die liefde. So ’n liefde is bereid om te gee, te dien, te beskerm, selfs met verloëning van die self. Eers dit is egte liefde.

Dit geld met name ook van die erotiese liefde soos dit in die vorm van seksuele liefde tussen twee mense bestaan. Dit is deel van ons menswees en ’n gawe van God. Ook dit word opgewek deur ’n behoefte om by die ander te wees, om die ander te besit, selfs met die ander een te word in ’n verhouding van wedersydse selfprysgawe. Maar alles hang af van die wyse waarop dit funksioneer.

Hoe meer persoonsgerig so ’n begeerte is, hoe groter die moontlikheid dat die behoefte aan die ander beheers sal word deur die drang om daardie persoon te dien en te help, en hoe minder sal dit die persoon slegs wil gebruik vir die bevrediging van eie behoeftes. Net ’n persoonsgerigte verhouding kan die loop van die jare trotseer. Dit kan selfs met verloop van tyd in diepte toeneem, ondanks die volle kennis van mekaar se swakhede. Dit kan die hele lewe omspan, “totdat die dood ons skei”.

Dit gebeur nog makliker as dit omvat word deur die ander soort liefde, die “agape” of onbaatsugtige liefde wat as gawe van die Gees in ons hart uitgestort word. Dit kom nie uit ons behoefte nie, maar uit ons oorvloed op: die oorvloed van welwillendheid teenoor elke mens wat op ons weg mag kom.

Dit kan ons harte vul as die neerslag van die liefde waarmee God die wêreld liefhet en ook vir ons, ’n liefde wat nie vra nie, maar gee, wat nie om loon aangebied word nie, maar verniet, uit loutere goedheid, ter wille van die ander. – WDJ