TOTIUS EN DIE PSALMS
Die Burger, 14 Julie 1990, bladsy 10
Hoe langer ’n mens met die Psalmberyming van Totius saamlewe, hoe meer word jy daarvan bewus dat ’n groot stuk van die digter se eie vroomheid en ervaring in hierdie werk neerslag gevind het. Die Psalms het sy psalms geword.
Natuurlik is ’n Psalmberyming iets anders as vrye digwerk. Die digter is gebonde aan die Bybelteks en dit is sy opdrag om die woorde en gedagtes wat daarin tot uitdrukking kom, so suiwer as moontlik in ’n singbare gedig te verwerk. Van die soort oorspronklikheid wat vir ’n gewone gedig kenmerkend is, kan hier nie in dieselfde sin sprake wees nie.
Daarby kom nog dat Totius sy beryming nie as ’n volkome oorspronklike werk gesien het nie. Hy het aangesluit by die Nederlandse beryming waarvan die woorde op talle plekke in Afrikaans oorgebring kon word, sodat die kontinuïteit met die Nederlandse Psalms so ver moontlik bewaar kon word.
En tog praat hierdie beryming op onmiskenbare wyse die taal van Totius met sy eie ervaring as mens, selfs die taal van sy Wes-Transvaalse wêreld. In die keuse van sy woorde en die hantering van bepaalde beelde word sy eie belewing van die omgang met God en sy eie verstaan van die evangelie sigbaar.
Dit is moontlik om kritiek op sy digwerk te lewer. Maar dit neem niks daarvan weg nie dat ons daarin die deurleefde neerslag het van die vroomheid van Israel in die hart van ’n mens uit die nuwe verbond. Totius se Psalms is Christelike liedere, maar boonop liedere van ’n mens wat die lyding, die angs, die uitkoms en die vreugde van die Joodse vromes self geken en ervaar het.
Die hele bundel is vol van voorbeelde waar net daardie iets voorkom wat nie so in die Bybelteks staan nie, soos sy verwysing na die bange tyd van somerdroogtes, of sy troos dat die donker uur omgegaan het, of sy ingehoue vreugde oor die goedheid van God in verdrukking, waaraan ’n mens merk dat hierdie bepaalde mens homself en sy lewe met die Psalms geïdentifiseer het.
Totius het in die Psalms dieselfde ervarings herken waarvan hy in sy eie lewe kennis gehad het, om God gekasty en vertroos, genees en aanvaar te word. Uit die wisselwerking tussen sy eie wandel met God en sy omgang met die teks het sy beryming van die Psalms as ’n getuienis en na vore gekom.
Dit kom na ons met die uitnodiging om ook so intensief met die Psalms om te gaan, dat ons in hulle nie net ons eie ervarings met God terugvind nie, maar ook die woorde waarmee ons oor daardie ervarings kan praat en bid, dink en sing. Die Psalms het ’n oneindige rykdom wat steeds meer ontsluit word vir wie in oorgawe daarmee omgaan.
Dit sou ’n kwade dag wees as die Psalms steeds meer uit die sang in ons eredienste verdring sou word, want daarmee saam sal ook die diepte en die rypheid van hulle vroomheidstipe wat so uitnemend deur Totius aangevoel is, tot ons eie skade uit ons kerke verdwyn. – WDJ