Makgemaakte Christendom

MAKGEMAAKTE CHRISTENDOM
Die Burger,
28 Julie 1990, bladsy 12

Een van die grootste gevare wat die Christendom bedreig, is dat dit die oorspronklike inspirasie waaruit dit gebore is, kan verloor en kan afsak tot ’n verburgerlikte beweging wat wel nog die naam van Christus dra, maar nie meer die krag van die evangelie openbaar nie.

Dan is die kerk nie meer die gemeenskap van dissipels van Christus wat Hom navolg en op ’n aansteeklike wyse uit die verlossing leef nie, maar ’n respektabele organisasie wat deel geword het van die wêreld waarin dit bestaan. Dit streef dan wel nog na die goeie en bevorder die gangbare moraal, maar dit mis die geestelike diepgang, die vuur en vreugde wat die lewe van die eerste Christene gekenmerk het.

Die resultaat daarvan is ’n makgemaakte Christendom wat die radikaliteit van Jesus se woorde uitlegkundig afgestomp het tot beginsels van ordentlikheid wat nie ’n te hoë prys kos nie. Die Bergrede word lamgelê en die diepste intensies van die evangelie word nie meer verstaan nie. Dit is nie vreemd dat daar deur die eeue altyd weer stemme opgegaan het wat teen hierdie verburgerliking van die evangelie geprotesteer het nie.

’n Mens dink hier maar aan iemand soos Søren Kierkegaard wat met sy vlymskerp pen die Deense staatskerk en die hele Europese Christendom aan die kaak gestel en die gapende kloof tussen die kerk van sy dae en die bedoeling van Christus aangetoon het. Maar ’n mens moet ook dink aan die protes van sektariese bewegings wat wel dikwels die kerk in ’n verkeerde gees onder kritiek gestel het, maar tog iets aangevoel het van die verraad wat in ’n makgemaakte Christendom teenoor die saak van Christus gepleeg word.

Egte Christenskap is radikaal, maar dit is terselfdertyd ook so eenvoudig en vreugdevol, omdat dit ’n mens bevry van die verbeeldingsloosheid van die ingeboënheid in homself en van die minimum-lewe wat kenmerkend is van die burgerlike mens. Dit verlos ’n mens van die kwasi-erns van die moralisme met sy redenasies oor wat goed en kwaad is, sonder om ’n mens werklik vry te maak tot die liefde vir God en die naaste.

Dit sal wonderlik wees as God in hierdie tyd van krisis dit aan talle in ons land sou gee om oor die grense van kerke, groepe en rasse heen die ervaring te hê dat hulle bevry word tot die soort radikale lewe uit die liefde.

Wat ’n verskil sal dit maak as ons saam kan ontdek dat oorgawe aan die genade van God ons nie net losmaak van ons sondige verlede nie, maar ons ook inlei in ’n nuwe manier om geestelik vry van onsself en onbesorg oor die toekoms te word, sodat daar in ons lewe plek vir God en ons naaste kan kom soos die evangelie daarvan praat.

Die evangelie is werklik radikaal. Dit vra ons hele hart en keer ons waardes om. Dit lyk na dwaasheid. Maar dit is die enigste weg tot lewensvervulling en die vreugde van bevryding uit die humorlose selfsoeke van die onverloste mens tot die sinvolle bestaan van ’n dissipel. – WDJ