DIE WISSELWERKING
Die Burger, 27 Januarie 1990
Daar is ’n innige wisselwerking tussen ’n mens se geloof en jou gewete. Daarom lees ons in 1 Timoteus 1:19 die vermaning wat aan die jong Timoteus gerig word om aan die geloof vas te hou en ’n goeie gewete te behou, met die verduidelikende opmerking daarby: “Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.”
Geloof en moraal is op die allernouste manier aan mekaar verbonde. Die egte geloof in God bring met innerlike noodwendigheid ’n lewenswandel mee wat in ooreenstemming met die wet van God is. Die verlorenheid van die mens bestaan nie net in sy vervreemding van God self nie, maar ook in sy opstand teen die wil en wet van God. Goddeloosheid is tegelykertyd ’n religieuse en ’n morele werklikheid.
Daarom het die boodskap van bekering altyd ’n dubbele betekenis as toekeer tot God en afkeer van die kwaad. Gemeenskap met God en gemeenskap met die kwaad sluit mekaar uit. Die oproep tot bekering doen ’n beroep op ons gewete. Dit maak ons skuldbesef wakker. Dit roep ons weg van die sonde en ons slegte gewete na die vergiffenis en ’n nuwe lewe in gehoorsaamheid aan God.
Slegs in die gemeenskap met God is daar die moontlikheid van ’n goeie gewete. Ons gewete kan slegs goed wees, as die sonde van die verlede vergewe is en as ons in gemeenskap met God in die lig lewe soos Jesus in die lig is. Dan reinig die bloed van Christus ons voortdurend van elke sonde en hoef ons gewete ons nie meer te beskuldig nie (1 Johannes 1:7).
Die probleem is egter dat ons daarin kan slaag om skeiding te maak tussen geloof en gewete. Dit gebeur wanneer ’n mens wel wil vashou aan God se genade en aan die beloftes van die evangelie, maar terselfdertyd tog nie so in gemeenskap met Jesus lewe, dat jou hele lewe in die lig is soos Hy in die lig is nie.
Dan word jou gewete nie voortdurend gereinig van wat verkeerd is nie. Die gevoeligheid vir die sonde stomp af. Die gewete word onderdruk. Hy is dan nie meer ’n getroue waghond wat waarsku teen die kwaad nie. Hy word selektief. Oor bepaalde dinge waarsku hy, maar oor ander swyg hy. En ’n swygende gewete is nog iets anders as ’n goeie gewete.
So kan mense vroom praat en bid en sing, terwyl hulle in hulle alledaagse lewe op ekonomiese, politieke of seksuele terrein dikwels moreel ongevoelig is. Hulle wil aan die geloof vashou, maar het hulle goeie gewete prysgegee.
Die Bybel sê: dit kan nie. Daar is ’n wisselwerking tussen die twee. As jy jou goeie gewete prysgee, sal jou geloof skipbreuk ly. Niemand kan God en Mammon dien nie. Niemand kan in die duisternis wandel en tog aandeel aan die lig hê nie.
Net wie voortdurend in die gemeenskap van Christus bly, kan ’n goeie gewete behou, omdat die bloed en die Gees hom van oomblik tot oomblik reinig. – WDJ