Die stad van God

DIE STAD VAN GOD
Die Burger, 17 Februarie 1990

Daar kom telkens weer tye van ingrypende veranderinge in die geskiedenis, wanneer dit vir diegene wat in die bestaande orde geborgenheid en vastigheid besit het, voel asof alle vertroude waardes omgekeer word en die grond onder hulle voete verdwyn.

Dit is net begryplik dat hulle dan bedreig voel, die toekoms met vrees en sorg tegemoet sien, en onseker is oor hoe so ’n situasie hanteer moet word. Dit kan vir hulle tot ’n diep traumatiese ervaring word.

In sulke tye moet ’n mens se geloof in God aan jou die perspektief gee om rustig te kan bly en die toekoms met vertroue tegemoet te kan gaan. Soos dit vir individue geld dat traumatiese tye vir hulle die moontlikheid van groei en verdieping inhou as hulle dit reg verwerk, so kan dit ook met ’n gemeenskap wees.

Die geskiedenis ken baie voorbeelde daarvan dat die negatiewe die saad van die positiewe bevat het. Een van die bekendste voorbeelde is die val van die magtige Romeinse Ryk toe die Wes-Gote in die jaar 410 Rome ingeneem en geplunder het. Die Romeinse selfbewussyn is ’n gevoelige slag toegedien. Die verwarring was groot. Daar is gevrees dat dit die einde van die beskawing sou wees en Christene het hulle hart vasgehou vir die toekoms van die kerk.

Maar alles het tog anders uitgewerk. Die val van Rome het ’n groot geleentheid geword vir die kerstening van Europa. Die Grieks-Romeinse beskawing het Europa binnegedring en ’n invloed verkry waarvan ons nog steeds die vrugte pluk.

Soos dit so dikwels in die geskiedenis gebeur het, het die verleentheid van die oomblik op die lang duur ’n geleentheid geblyk te wees wat die betekenis van Rome veel groter gemaak het as wat dit ooit tevore kon wees.

Augustinus het in daardie tyd sy groot werk oor die Stad van God geskryf. Hy wys sy tydgenote daarop dat alle aardse ryke maar van tydelike aard is en vergaan, ook vanweë hulle eie goddeloosheid. Maar die Ryk of die Stad van God kan nooit ondergaan nie. Christene is dus mense met ’n vergesig. Hulle kyk nie teen die onmiddellike vas nie, maar verstaan dat daar ’n vaste hand aan die stuur van dinge is.

Augustinus het gelyk gehad. Omdat dit in die wêreld om meer as die aardse stede en state gaan, verloop die geskiedenis nie net negatief nie. Uit die verwarring van ’n bepaalde uur kan ontwikkelinge gebore word wat ons verwagtinge totaal te bowe kan gaan, omdat dit dienstig is van die Stad van God.

Omdat die lewende God die wêreld regeer, mag ons hoop en glo dat elke moeilike uur van ons pad die begin kan wees van iets wat beter en grootser is as wat ons tevore beleef het. En as ons dit glo, kan ons ook onder die moeilikste omstandighede positief bly en ons getuienis as Christene blymoedig uitleef. – WDJ