Voorwaarde vir geluk

VOORWAARDE VIR GELUK
Die Burger, 24 Februarie 1990

Egte geluk is nie iets wat van buite kom en wat ’n mens deelagtig kan word sonder dat jou hele lewe daarby betrokke is nie. Dit kan alleenlik die vrug wees van innerlike harmonie en vrede, van ’n goeie gewete en die bewussyn dat ons vreugde reg en goed is, omdat dit ’n gawe en geskenk is wat ons uit Gods hand ontvang en daarom met blydskap mag geniet.

Geluk kan nie gekoop word nie. Dit kan ook nie gesteel word nie. Geluk wat ’n mens op ’n onregmatige manier – en dit wil ook sê op ’n immorele manier – probeer bekom, is gesteelde geluk. Maar gesteelde geluk laat altyd ’n wrang smaak na. Die resultaat daarvan is altyd vernietigend.

Die Spreukeboek vergelyk die Dwaasheid met ’n ontugtige vrou wat onervarenes na haar huis uitnooi met die woorde: “Gesteelde waters is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!” Maar, sê hy, hulle weet nie dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie (Spreuke 9:17–18).

As ’n mens geluk onregmatig moet probeer bekom, beteken dit dat jy nie daarop geregtig is nie. ’n Mens moet dan bepaalde lewenswette oortree. Feitlik altyd sal jy andere daarmee ongelukkig moet maak. Maar ’n mens kan nie jou geluk op andere se ongeluk bou nie. Wie dit probeer, pleeg ’n onreg wat dikwels nooit weer herstel kan word nie.

’n Man wat byvoorbeeld sy vrou bedrieg of ’n vrou wat haar man bedrieg, moenie sê dat hulle net ’n bietjie geluk gesoek het nie. ’n Mens mag geluk soek, maar nie op ’n wyse wat andere se ongeluk beteken nie. Ook nie op ’n wyse wat ingaan teen die gebod van God nie. Dit wreek homself altyd daarin dat die geluk wat gesoek word, in ongeluk verander.

In ons tyd het die openbare mening so permissief geword dat daar deur die samelewing eintlik geen morele druk meer uitgeoefen word nie. In die naam van vryheid kan mense feitlik doen wat hulle wil. Gevolglik dink baie mense glad nie meer in terme van die vraag of iets reg of verkeerd is nie. Hul enigste maatstaf is of dit aan hulle plesier sal verskaf.

Permissiwiteit hef egter nie die geldigheid van Gods gebod op nie. Hoe losser die sedes word en hoe minder mense bereid is om hul geluk te vind in die weg van geregtigheid, des te pynliker word hul lewe verskeur en hoe minder smaak hulle geluk in die egte sin van die woord.

Dit geld vir ons hele lewe. Ons kan nie in ons wedywer met mekaar op mekaar trap om bo te kom en dan dink dat ons daardeur gelukkig sal wees nie. Ons kan nie ’n lewenstyl daarop nahou wat medemense benadeel en dan dink dat dit tot vrede sal lei nie.

Daarom skryf Paulus aan die Filippense dat hulle niks uit selfsug of eersug moet doen nie, en veral nie net aan hul eie belange moet dink nie (Filippense 2:3–4). ’n Mens is net gelukkig as jy ook andere se geluk in ag neem. – WDJ