BID MET ’N PSALM
Die Burger, 17 Maart 1990
As u die ervaring ken dat u soms nie weet hoe of wat om te bid nie, kan u gerus die wenk onthou om ’n Psalm te kies en dit biddend te lees. Die Psalms is in hulle wese gebede, en dit is die ervaring van gelowiges deur die eeue dat dit ’n onberekenbare ondersteuning, troos en verryking is om die Psalms diep in die hart te laat insink en hulle na te bid.
Daar is geen ervaring of emosie van ons hart wat nie ook op een of ander manier in die Psalms aanwesig is nie. Lof, dank en aanbidding, sondebesef en berou, sugte in die dag van onheil, worsteling met die ondeurgrondelike raad van God – dit alles vorm die skering en inslag van die Psalms. Daarom is dit so maklik om die woorde van die Psalms tot ons eie te maak en dit as ‘t ware opnuut voor God uit te sprei.
Dit kan bevrydend wees as ons in ons omgang met God nie na eie woorde hoef te soek nie, maar die Psalms toelaat om aan ons emosies en verlangens, ons frustrasie en teleurstelling uitdrukking te verleen op ’n wyse wat ons vermoëns en geestelike ervaring ver oorstyg.
Dit is opvallend dat ook Jesus aan die kruis gebid het in woorde wat aan die Psalms ontleen is. In die haglikheid van sy smart was die woorde van die Psalms vir Hom die beste uitdrukking van sy lyding en sy worsteling met God. Woorde wat lank tevore onder die inspirasie van die Heilige Gees uit die harte van die vromes opgewel het, kan ook vir ons, soos vir Jesus, die beste uitdrukking van ons ervaring met God word.
Dit geld in die besonder ook van die ervaring waarvan so baie gelowiges getuig, dat daar tye kom wanneer hulle die gevoel het dat hulle deur God verlaat is. Dit is nie net dat die eertydse vreugde van hulle verhouding tot God verdwyn nie, maar dit is ook dat hulle voel asof hulle nie in die gebed tot God kan deurdring nie.
In sulke tye is dit selfs moeilik om ons harte tot God op te hef. Al ons woorde voel vlak en betekenisloos. ’n Sekere tamheid en terneergedruktheid versper ons weg na die vreugde van die omgang met God. Dit is of God ons verlaat het.
Juis dan kan dit ons help as ons ons toevlug tot die Psalms neem om in die woorde van die Bybel self ons saak, ons verlange en ons nood voor God te bring. Ons laat die Psalms dan maar namens ons bid. Ons vertrou die Heilige Gees wat die dieptes van ons hart ondersoek, om ons nood en behoefte in die woorde van die Psalms voor God te bring.
Dikwels ervaar ons dan dat ons hart verwarm word terwyl ons nog bid. Die Gees maak van die geïnspireerde woorde gebruik om ons hart aan te raak. Dan gebeur dit maklik dat ons wel met die Psalm begin, maar ongemerk daartoe oorgaan om in ons eie woorde met God verder te praat. Wat begin het as ’n tyd vol doodsheid van die hart, word tot ’n tyd van vreugde en verkwikking. En soos die Etiopiër van wie ons in Handelinge 8 lees, gaan ons dan met blydskap verder op ons pad. – WDJ