Hart van die evangelie

HART VAN DIE EVANGELIE
Die Burger, 13 April 1990

Die gebeurtenisse wat in die Paasnaweek gevier word – die kruisiging en die opstanding van Christus – vorm die hart van die Christelike geloof.

Om dit goed in die oog te kry moet ons by die opstanding begin. In die opstanding van Jesus uit die dood gaan dit werklik om die kern van die evangelie. In die letterlike sin van die woord is dit waar dat die Christelike geloof uit die opstanding van Jesus gebore is. As Jesus nie uit die dood opgewek was nie, was daar geen Christendom nie.

Die Evangelies self laat ons sien hoe die gebeurtenis van die Paasmôre ’n totale omwenteling in die lewe van die dissipels gebring het. In die donker nag van die kruisdood van hul Heer en Meester het daar skielik ’n helder lig geskyn. Aanvanklik twyfel hulle, huiwer hulle, vind hulle dit moeilik om dit te glo. Maar as die lewende Jesus self aan hulle verskyn, word alle onsekerheid weggevee.

Jesus leef!
Eers langsamerhand dring die volle betekenis daarvan tot hulle deur. Jesus leef, maar Hy leef nie meer soos Lasarus ná sy opwekking uit die dood geleef het – om een of ander tyd weer te sterwe nie. Nee, Hy lewe as die verheerlikte in die krag van ’n onvernietigbare lewe (Hebreërs 7:16). Hy het nie uit die dood teruggekeer soos een wat omgedraai het nie; Hy het deur die dood heengegaan en dit oorwin. Hy het reeds die verandering deelagtig geword waarvan Paulus in 1 Korintiërs 15:53 praat. Hy het as eerste die opstanding van die vlees – die groot gawe van die einde – deelagtig geword.

As die apostels ná die hemelvaart van Jesus die Heilige Gees ontvang en die wêreld intrek om as sy getuies op te tree, staan die opstanding van Jesus sentraal in hul boodskap. Hulle is in die mees letterlike sin getuies van die opstanding.

Nie net Petrus se rede op die Pinksterdag nie, maar ook die prediking van Paulus, loop altyd uit op die opstanding as die klimaks en spil waarom alles draai. Dit is ook waaraan die hoorders die meeste aanstoot neem, soos by die Areopagus blyk (Handelinge 17).

Maar vir die apostels en vir diegene wat deur hul woord glo, is die opstanding die bewys dat God self op ’n ongekende wyse in Jesus gehandel en Hom aangewys het as die Seun van God wat met mag beklee is (Romeine 1:4). Die gekruisigde Jesus is deur die opstanding geopenbaar as die Here van hemel en aarde (Handelinge 2:36), as die Oorwinnaar oor dood en hel, as die lewende teenwoordigheid van God self in die menslike vlees en die menslike geskiedenis.

Daarom lees ons ook dat die dissipels die opgestane Jesus aanbid het (Matteus 28:17). Hulle het besef dat Hy nie maar net ’n gewone mens was wat naby God geleef het of deur God begenadig is nie. Hulle het verstaan dat Hy tot die Godheid van God behoort. Die leer van die drie-eenheid van God was daarmee in beginsel gegee.

Die kruis
Eers in die lig van die opstanding ontvang die kruisiging van Christus sy ware betekenis. As die Een wat gekruisig is die Seun van God is, kry die kruis ’n nuwe en verbysterende betekenis. Dan is God self in die kruisgebeure aanwesig. Maar dan kan die kruis nie as ’n tragiese gebeurtenis verstaan word nie. Dit moet dan verstaan word as ’n daad van God self. Die Nuwe Testament sê dan ook dat God sy eie Seun oorgegee het as die offer tot versoening van ons sonde (Romeine 8:32).

Donker Vrydag word tot Goeie Vrydag. Die mense het wel kwaad teen Jesus bedink, maar God het dit ten goede beskik om ’n groot volk in die lewe te hou (Genesis 50:20). Die kruis word ’n heilsfontein omdat dit die offer is van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

Die wêreld met al sy skuld en ellende is aan die kruis opgevang in die arms van God. In sy eie liewe Seun het God die onheil van die wêreld op Homself geneem, dit gedra en dit oorwin. Dit is die hart van die evangelie.

Die God van liefde
Maar dit is nie net die kruis wat eers vanuit die opstanding reg verstaan kan word nie. Ook God word in die Paasgebeure geopenbaar soos Hy waarlik is. Dit is die uitnemendheid van die Nuwe Testament bo die Oue. Eers in die lig van die Nuwe Testament leer ons beter verstaan hoe volkome die God van die Ou Testament die God van liefde is.

Die Ou Testament sê duidelik genoeg dat God barmhartig en genadig is. Maar die Nuwe Testament vul hierdie begrippe in deur ons te laat sien dat God se liefde bereid is om in Jesus Christus in ons nood en ellende in te tree, die vloek van die sonde te dra en te verwyder, en die lewe vir ons te bewerk.

God is nie net die Almagtige en Verhewene nie, maar Hy is ook die Liefdevolle wat op ’n onvoorstelbare wyse in sy Seun nederig en swak geword het om ons van die ewige dood en skande te verlos en die deure van hoop vir ons oop te maak.

Daar kan vir ons geen beter nuus wees nie as die Paasboodskap dat God die God van medelye en hoop is, wat ons verwarring en pyn ken en dit in Christus reeds oorwin het, sodat elkeen wat in Hom glo, verseker mag wees van die ewige verlossing en oorwinning. – WDJ