DIE INISIATIEF KOM VAN GOD
Die Burger, 19 Mei 1990
Dit is van die grootste belang dat ons in ons omgang met God altyd sal onthou dat die inisiatief in ons verhouding tot God altyd by Hom berus, nie by ons nie.
Ons is van nature daarop ingestel om ons eie dinge te doen. Ons wil regmaak wat verkeerd is en tot stand bring wat nog kortkom. Ons wil presteer en dit die moeite werd maak dat ons geleef het.
Op sigself is dit nie verkeerd nie, maar goed dat dit so is. God het ons so gemaak. Soos alles in ons lewe egter deur die sonde kromgebuig is, is ook hierdie inherente drang van ons deur ons selfliefde, selfsug, en ambisie aangetas. Dit word besmet met ons veroweringsdrang en prestasiesug en is dus heeltemal op ons selfverheerliking gerig.
In die gewone dinge van die lewe kan dit ons help om baie sukses te behaal. Ons kan presteer, talle andere in die skadu stel, rykdom en eer behaal. Maar geestelik gesien, is dit net nog ’n voorbeeld van ons verwording en ingeboënheid op ons self wat die wortel van die kwaad is.
Die gevaar is nou dat ons ook in ons verhouding tot God nie hiervan kan vrykom nie. Dan meen ons dat die kwaliteit van ons verhouding tot God van ons prestasie en inisiatief afhang. Soos ons in ons hele lewe die inisiatief wil neem en die situasie wil beheers; soos ons deur ons ywer en inspanning ons doel met alles wil bereik en dikwels ook daarin slaag, so wil ons ook in ons godsdienstige lewe uitblink en presteer deur ons eie aktiwiteit.
Ons wil God vuriger soek as andere, ons wil presteer in die godsdienstige aktiwiteit wat ons ontplooi. Ons wil van ons kant God na ons toe haal. Ons wil God soveel as moontlik probeer behaag. Soos ons eertyds honderd persent vir die wêreld gegaan het, so gaan ons nou honderd persent vir die godsdiens.
En ons merk nie dat dit nog altyd die ou ambisie in ons is wat nou ’n vroom kleed aangetrek het nie. Ons maak asof God passief is en op ons wag om die inisiatief te neem in die verhouding tot Hom. Maar dit werk nie so nie. God het die inisiatief. Alles kom van sy kant af. Ons kan alleen geestelik groei as ons volkome afhanklik van God is en soos bedelaars met leë hande voor Hom staan.
Dit is nie die vurigheid of erns waarmee ons God soek, wat meebring dat ons God kan bereik en in sy liefde deel nie. Dit is die neerbuiging van God na ons toe wat in ons die wederliefde opwek en ons daartoe bring om Hom te soek.
Dit is nie ons toenadering tot God, ons godsdienstigheid, ons gebede, ons Bybelstudie, ons liefdeswerke, ons pogings om andere vir Christus te win, wat ons verhouding tot God tot stand bring en uitbou nie. Dit is God wat ons deur sy Gees van ons self ontledig om ons aan Hom te kan bind.
Betekenisvolle geestelike aktiwiteit word slegs gebore uit afhanklikheid van God, die rus in God en die wag op God. – WDJ