Dit is ondeelbaar

DIT IS ONDEELBAAR
Die Burger, 11 Augustus 1990

Daar is mense, veral onder die ouer generasie onder ons, wat soms onder die indruk verkeer dat die moderne mens ’n geringer morele besef sou hê as die mense van vorige eeue. Veral as ons die vryhede sien wat moderne mense hulleself veroorloof, byvoorbeeld op seksuele gebied, kan ons maklik dink dat hulle maar weinig morele besef het.

Natuurlik is dit nie waar nie. Die mens van vandag het nie ’n geringer morele besef as die mense van vroeëre generasies nie. Dit is net dat die aksent in sy morele beoordeling op ander dinge as in vroeër tye val. Deur verskeie faktore het die wêreld self verander en is die samelewing in ernstige krisisse gedompel, waardeur morele kwessies onder die aandag gekom wat vroeër nie so opgemerk is nie.

Daardeur het die makro-moraal, die sosiale en politieke moraal, in die brandpunt van die belangstelling te staan gekom, waar dit vroeër die geval met die mikro-moraal of individuele moraal was. Probleme rondom die atoombom, oorlog en vrede, diskriminasie en rassisme, armoede en rykdom, vryheid en geregtigheid, welvaart en besoedeling is die dinge wat tans morele verontwaardiging en hartstogtelike inset aan derduisende mense ontlok.

Die gevolg daarvan is dat morele kwessies wat vroeër baie aandag gevra het, op die agtergrond gekom het. Daar is nogal ’n tendens om die persoonlike en individuele moraliteit as van minder betekenis te beskou en al die klem op sosiale geregtigheid te laat val. Die neiging tot eensydigheid sit blykbaar in ons bloed. Daar word byvoorbeeld ligvaardig aan die morele chaos rondom die seksualiteit en die euwel van aborsie verbygegaan, terwyl met groot erns gestry word vir politieke geregtigheid of vir die bewaring van die omgewing.

Daarin skuil ’n groot gevaar. Dit kan gebeur dat die volle implikasies van immoraliteit op die individuele vlak nie meer besef word nie. Die lyding wat op die individuele vlak deur immoraliteit veroorsaak word, is egter nie minder sondig en pynlik, omdat dit deur individue teenoor ander individue gepleeg word, as wat die lyding is wat deur onpersoonlike sosiale strukture veroorsaak word nie.

Dit is goed dat ons oë geopen is vir die kwaad wat in sosiale strukture ingebou kan wees en vir die onreg wat daardeur geskied, maar dit sou dwaas wees om die kwaad op die individuele vlak gering te ag. Moraliteit is ondeelbaar. Wat immoreel is, bly immoreel, op watter vlak dit ook voorkom. Wat meer is, immoraliteit op die individuele vlak het altyd ook sosiale gevolge, omdat dit die stabiliteit van die gemeenskap aantas en so die openbare moraal vernietig.

Daarom moet elkeen wat teen sosiale onreg stry, ook waaksaam wees teenoor immoraliteit op die persoonlike vlak. Anders kom ons geloofwaardigheid in die gedrang en vernietig ons met die een hand wat ons met die ander opbou. God verwag dat ons die een moet doen en die ander nie nalaat nie. – WDJ