WANNEER DIE KLOK OP MAANDAG LUI
Die Burger, 15 September 1990
Op die onlangse beraad van ’n aantal kerke is die versoek gerig dat Christene elke Maandagmiddag om twaalfuur dwarsdeur ons land vir vrede en versoening tussen die verskillende volke en groepe in die land sal bid.
Om daaraan te herinner, word die kerkklokke op Maandagmiddag om twaalfuur gelui. Mag dit so wees dat daar dan op talle plekke mense sal wees, honderdduisende, ja selfs miljoene wat die hart enkele oomblikke tot God sal ophef in gebed!
Daar sal seker niemand van ons wees wat sal dink dat dit onnodig is nie. Die dinge wat die laaste tyd in ons land gebeur het, is so ’n sprekende openbaring van die vyandskap en haat, die nyd en onverdraagsaamheid wat tussen verskillende groepe in ons land bestaan dat ons moet besef dat daar meer nodig sal wees om dit te besweer as politieke maatreëls of polisionele optrede.
In Suid-Afrika is daar soveel konflikstof aanwesig dat die potensiaal vir bloedige gewelddadigheid nie maklik oorskat kan word nie. Wat ons tans ervaar, laat ’n mens vrees dat dit maar net die begin kan wees van veel erger dinge as dit nie betyds tot ’n einde kan kom en ’n nuwe bereidheid kan ontstaan om in verdraagsaamheid teenoor mekaar gesamentlik ’n nuwe weg vir die toekoms te vind nie.
Eintlik weet ons dat ’n wonder van God nodig is om in ons situasie mense met soveel uiteenlopende belange, tradisies en kulture, aspirasies en behoeftes tot ’n vreedsame nasie saam te bind. Wanneer die klokke dus op Maandag lui, rig ons ons oog op Hom wat alleen harte en gesindhede kan verander en ’n nuwe gees van welwillendheid gebore kan laat word.
Die gebed self kan ons hart verander. Wie immers leer bid vir ons land as geheel en vir alle mense wat hier woon, word daarmee bereid om God nie net vir die eie saak of die eie groep te wil opeis nie, maar om alle ander burgers en groepe in die land aan sy sorg op te dra en ook hul beswil voor Gods aangesig te bepleit.
Dit klink helder deur in die pragtige Gesang 36 uit die Gesangebundel van die Ned Geref Kerk en die Ned Hervormde Kerk: “Terwyl ons bid vir elke volk deur U op aard’ geplant, hoor ons, o Heer, wanneer ons bid vir hierdie dierbaar land. Behou dan almal wat hier woon, in liefde tot mekaar; en laat geregtigheid die band van eenheid steeds bewaar.”
Uit hierdie gesang spreek die bewustheid van ’n inklusiewe; patriotisme waarin die liefde vir ons land nie maar net ons eie groep en eie mense omvat nie, maar die hele land met al sy veelheid en verskeidenheid, sy rykdom en sy armoede, sy grootsheid en sy ellende. Hier het God ons saamgebring en tot verantwoordelike lewe met mekaar geroep; en hier moet ons vir mekaar medemense en medeburgers wees wat mekaar se belange volgens die wet van God beskerm. – WDJ