DIE HUWELIK IS HEILIG
Die Burger, 3 November 1990, bladsy 12
Binne een geslag het die seksuele- en huweliksmoraal totaal verander. Byna geen enkele norm het op hierdie gebied die seksuele revolusie oorleef nie. Wat ’n geslag gelede nog onvoorstelbaar was, het tans iets alledaags geword: dat seksualiteit ’n onbeheerde en onbeheerste terrein van die moderne wêreld geword het.
Natuurlik was mense deur die eeue seksueel losbandig. Nie net die Bybel vertel ons dit nie: ook die Griekse mitologie is vol van die onverkwiklike verhale van die onbeteuelde seksuele drif wat altyd al ’n bron van ongeluk en stryd, haat en wraak was. As daar ooit ’n terrein is waarop die mens deur die eeue sy geluk op ’n verkeerde manier gesoek en ’n smartlike prys daarvoor betaal het, dan is dit die seksuele.
Maar in die moderne wêreld het dit alles soveel erger geword, omdat die religieuse en morele sanksies wat altyd op hierdie terrein ’n temperende invloed uitgeoefen het, net eenvoudig verdwyn het. Die sekulêre mens het mondig geword, en laat hom nie meer deur godsdienstige en morele “taboes” inbind nie.
Verskillende faktore het daarby ’n rol gespeel. Die gees van outonomie is onderskraag deur die wetenskaplike kennis wat dit moontlik gemaak het dat seksuele kontak sonder die bedreiging van moontlike swangerskap kan plaasvind. Dit het vanself ’n groter vryheid vir die seksuele omgang tussen die geslagte geskep.
Maar dit is begelei deur die hipertrofie van die seksuele in die moderne vermaaklikheidswêreld met sy filmsterre, sy helde en heldinne van die silwerdoek, verhoog en video, sy popsangers en dwelmprofete wat dikwels alle morele kodes verwerp. Op die stories van hulle ontug word ons getrakteer soos eens die Grieke op die mites van hulle gode se wellus. Selfs die ernstige literatuur het alle skroom laat vaar en beeldstormend die gebied van die seksualiteit oopgeskryf.
Die boodskap van vrye seks is in ons samelewing en huise ingedra langs alle kanale. Ons huidige geslag en ons kinders word teen wil en dank meegeneem in die vaart van ’n kultuur wat op onstuitbare wyse die huwelik as grondpilaar van ’n gesonde samelewing met geweld aftakel en vernietig.
Christene behoort hulle uit oortuiging daarteen te verset, nie net omdat dit ook die gesinslewe aantas en daarmee die hele samelewing bedreig nie, maar omdat dit immoreel is. Dit staan lynreg teenoor Gods gebod. Dit vervang egte liefde en trou met hartstog, sinlikheid en bandeloosheid en loop onherroeplik op pyn en verontregting uit.
Daarteenoor behoort Christene deur woord en voorbeeld te getuig dat die huwelik volgens Gods gebod die weg tot egte liefde, trou en geluk is. Dit beskerm ons teen die chaos en die pyn van die normlose verwildering wat altyd die vrug van die minagting van basiese lewenswette is. – WDJ