Regses boos oor NG man se belydenis

REGSES BOOS OOR NG MAN SE BELYDENIS
Politieke Redaksie
Rapport, 8 November 1990

Dr. Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, het hom gister sterk gedistansieer van belydenisse oor die sonde van apartheid.

Net so min as wat alles wat in die naam van apartheid gedoen is, goedgekeur kan word, kan ‘n obsessie oor die saamdwing van volke en gemeenskappe Bybels geregverdig word, het hy gesê.

Hy het gereageer op ‘n belydenis deur prof. Willie Jonker, hoof van die departement van dogmatiek van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, eergister op die nasionale konferensie van kerke op Rustenburg dat hy sy persoonlike aandeel, asook dié van die NG Kerk, in die sosiale, politieke en strukturele misstande van die verlede, erken.

In nog ‘n verklaring het mnr. Jaap Marais, leier van die Herstigte Nasionale Party, gisteraand gesê hy het met skok van prof. Jonker se optrede verneem.

Dr. Treurnicht het gesê hy distansieer hom “as kerkman en politikus van die eensydige en simplistiese belydenisse oor die sogenaamde sonde van apartheid wat uit sekere kerklike kringe gehoor word en veral ook nou van prof. Willie Jonker”.

“Net so min as wat volksverafgoding of alles wat in die naam van apartheid gedoen is, goedgekeur kan word, kan ‘n obsessie met integrasie en die saamdwing van volke en gemeenskappe Bybels geregverdig word.

“Dit het tyd geword dat die kerke aandag gee aan die dwaling van anti-apartheidsbeweging en sy verband met die teologie van bevryding en vandaar sy skakeling met kommunistiese en revolusionêre organisasies en doelstellings.

“Ek let met besorgdheid op die verspreiding van die sogenaamde ‘globalisme’, wat niks te make het met Christelike geloofseenheid nie,” het dr. Treurnicht gesê.

In sy verklaring het mnr. Marais gesê: “Met dié stap vervreem prof. Jonker die NG Kerk volkome van sy verlede en skaar hy hom vernederend by dié kerklike instansies wat nog pal die Afrikanervolk beveg het – van die Reads en Van der Kemps tot die Huddlestons en die Reevese.”

Sy skuldbelydenis is in wese net ‘n teologies gekleurde apologie vir die Nasionale Party se beleid van rasse-gelykstelling en -vermenging onder druk van die Britse en Amerikaanse politieke magte. Honderdduisende Afrikaners is egter nie bereid om deur prof. Jonker in die beskuldigdebank van die geskiedenis gestel te word nie, het mnr. Marais gesê.