’n Stil sku man skud die NG Kerk

’N STIL SKU MAN SKUD DIE NG KERK
Mariechen Waldmer
Beeld, 11 November 1990

Sedert ‘n stil, sku NG teoloog van Stellenbosch oor apartheid skuld bely het voor die groot kerkeberaad by Hunter’s Rest, stroom berigte van groot beroering onder die NG Kerk se konserwatiewe blanke lidmate daagliks in.

Daar word vertel van predikante en lidmate wat in opstand is teen hul kerk, dreigende bedankings en kerklike behoudendes wat aksieplanne beraam om landwye weerstand te konsolideer.

‘n Voormalige moderator, ds. Kobus Potgieter, wil die konserwatiewe op
l Desember in ‘n groot konferensie byeenbring. Sy hoofspreker is die leier van die Konserwatiewe Party, dr. Andries Treurnicht.

Dr. Treurnicht, voormalige redakteur van Die Kerkbode en voormalige NG predikant, het reeds kennis gegee dat hy van voorneme is om die regses ook in die kerk waarvan hy nog lidmaat is, aan te voer.

Voordat die skuldbelydenis op Hunter’s Rest inderdaad koud was, het dr. Treurnicht dit op ‘n politieke vergadering in kras taal veroordeel. Agter hom staan duisende regse lidmate van die NG Kerk wat vir die KP stem omdat hulle geen politieke heil buite apartheid kan sien nie.

Kerkleiers vrees die konserwatiewe kruistog wat klaarblyklik binne die NG Kerk gestalte aanneem, kan die kerk uitmekaar ruk.

Die moderator, prof. Piet Potgieter, en ander kerkleiers het in die loop van die week vergeefs geprobeer om die konserwatiewe gemoedere te kalmeer. Hul argument dat die skuldbelydenis in die teken staan van besluite wat op die Algemene Sinode verlede maand in Bloemfontein ten opsigte van apartheid geneem is, rol soos water van regse kerklike rue af.

Hul pleidooie om kalmte en nugtere beoordeling van die feite val op dowe ore.

Hoe min die kerk en sy konserwatiewe werklik vir mekaar te sê het, het duidelik geblyk in die TV-debat Woensdagaand oor die “etiek van apartheid” tussen prof. Danie du Toit van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch en een van die groot konserwatiewe kruisvaarders in die kerk, prof. Carel Boshoff.

Daar was in die debat geen enkele raakpunt tussen prof. Du Toit se veroordeling van apartheid as ‘n ongeregtigde politieke stelsel wat hoegenaamd nie uit die Skrif goedgepraat kan word nie, en prof. Boshoff se uitgesproke vrees vir ‘n politieke toekoms sonder apartheid.

Vir die Suid-Afrikaners wat die soms bitsige gesprek op die TV-skerm gadegeslaan het, het dit inderdaad gelyk asof hulle nie eens meer dieselfde Bybel lees nie.

Wat die groot regse ongedurigheid in die kerk uiteindelik gaan oplewer, is nog ’n ope vraag. Daar is konserwatiewe wat ‘n grootskaalse uittog voorstaan. Daar is egter ook diegene in dié geledere wat meen dat hul stryd net voordeel sal oplewer as hulle binne die kerk vasskop en sake daar uitbaklei.

Dat prof. Willie Jonker se skuldbelydenis egter die magtige en invloedryke NG Kerk uiteindelik voor sy uur van waarheid neergesit het, betwyfel min.

Dat dit juis dié 61-jarige teoloog moes wees wat sy skuld en die skuld van sy kerk gaan bely het, is ‘n ironie wat nie verbygegaan het by die mense wat sy geskiedenis in die kerk ken nie.

Hy staan bekend as een van die profete wat hom vroeg in die sestigerjare die gramskap van sy kerkgenote op die hals gehaal het toe hy bedenkinge oor die kerk se rassesieninge begin opper het.

As jong aktuarius van die Suid-Transvaalse Sinode het prof. Jonker destyds gepleit om ‘n grondige hersiening van die sendingbepalinge van die kerk en in die proses een van die vroegste pleitbesorgers vir die eenheid van die kerk geword.

Vandag probeer die blanke kerk doen wat prof. Jonker drie dekades gelede bepleit het. Maar daar lê ‘n wêreld van swart en bruin verbittering in die pad van die blanke NG Kerk om apartheid uit sy strukture te wis en ‘n enkele kerkverband vir al sy lidmate tot stand te bring.

Prof. Jonker het sy kerk se woede oor sy sogenaamde “liberalisme” lewenslank aan die lyf gevoel, maar hy het, anders as manne soos dr. Beyers Naudé en dr. Nico Smith, nie die kerk verlaat nie. Inteendeel. Hy het oor die jare op sinodes en elders in die wroeginge van die kerk gedeel.

Van hom het niemand belydenis oor apartheid gevra nie. Maar hy was nietemin bereid om dit ook vir die NG Kerk te doen.

En in die proses het hy ‘n debat aan die gang gesit wat nog lank gevoer sal word.