Objektiewe selfkritiek is noodsaaklik

OBJEKTIEWE SELFKRITIEK IS NOODSAAKLIK
Die Burger, 2 Februarie 1991

Dit is natuurlik vir ons om altyd te dink dat ons gelyk het en die ander mense ongelyk; dat ons saak reg is, maar die van die ander verkeerd; dat ons motiewe suiwer en edel is, maar die van die ander goddeloos en sleg.

Dit is egter dikwels die geval dat ons nie meer gelyk het as andere nie, en ook nie suiwerder motiewe as hulle het nie, maar dat ons onsself mislei, omdat ons hopeloos te gunstig oor onsself oordeel en onbillik krities oor die ander.

Omdat ons in selfliefde so intens betrokke is by onsself en ons belange, is ons heeltemal bevooroordeeld ten gunste van onsself en ten nadele van diegene wat met ons verskil en vir ons besef ons belange op een of ander wyse bedreig.

Hierdie vooroordeel bepaal dan ons kyk op dié dinge en ons begrip daarvan. Ons het nie vanself ’n onafhanklike en objektiewe oordeel oor onsself of oor ander mense nie. Ons oordeel word altyd beïnvloed deur subjektiewe faktore. Ons rede is allermins ’n objektiewe instansie.

Dit dien baie keer om argumente te vind om ons subjektiewe en selfsugtige kyk op die lewe te probeer regverdig. In dié sin kan gesê word dat ons denke dikwels ’n ideologiese karakter dra. Dit reflekteer nie die waarheid soos dit is nie, maar die waarheid soos ons dit graag wil hê.

Daarom word politieke en ander verskille tussen mense uitgeveg terwyl elke kant ten volle oortuig is dat hy gelyk het en die stryd vanuit die edelste motiewe voer, terwyl buitestaanders sonder moeite kan sien dat daar aan albei kante ook baie eiebelang op die spel is. Dink maar aan die huidige konflik in die Midde-Ooste, maar ook aan baie van die konflikte in ons eie land.

Daarom is selfkritiek so ’n onmisbare element in ons lewe en in ons verhouding tot die wêreld en ander mense. Selfkritiek is nie net ’n bewys van volwassenheid nie; dit is ook ’n bewys daarvan dat ’n mens objektief genoeg geword het om deur te dring tot die verborge motiewe van jou eie hart en jou eie gevaarlike selfverblinding.

In selfkritiek leer ’n mens om nie maar te leef uit jou selfsugtige begeertes en natuurlike drifte nie, maar om jouself te toets aan die wet van God en die orde van sy Koninkryk. Dan ontdek jy hoe ver jy verwyder is van die gebod dat ons nie net elkeen na ons eie belange moet omsien om dit ten koste van die naaste te bevorder nie, maar dat ons ook moet omsien na die belange van die ander (Filippense 2:4).

’n Christen behoort nie reglynig en ideologies sy eie gelyk te poneer, sonder om bereid te wees om ook die gesigspunt van sy teenstander raak te sien nie. Hy moet sover immer moontlik probeer vasstel of sy eie motiewe en sy oorwegings in die lig van die wet van God suiwer is. Slegs as ons baie krities teenoor onsself is en onsself ook onderwerp aan die beoordeling deur ander Christene, kan ons hoop om die waarheid te dien en nie net ons eie begeertes nie. – WDJ