DIE NEIGING TOT NEGATIWITEIT
Die Burger, 9 Februarie 1991
As ’n mens nie versigtig is nie, kan jy maklik die slegte gewoonte aanleer om altyd eerder negatief as positief teenoor ander mense te staan. Onbewus word jy beheers deur ’n soort antagonisme en vooroordeel teenoor andere, wat daarin uitkom dat jy geneig is om altyd eerder iets negatiefs as iets positiefs oor andere te sê en te dink.
Dit is so maklik om iets negatiefs by andere te kan vind. Niemand is tog volmaak nie. En niemand is bo kritiek verhewe nie. Dit is dus nie moeilik om genoeg rede te vind om altyd iets negatiefs by andere op te merk en daarop kommentaar te maak nie.
Dit gebeur dikwels dat as iets positiefs oor ’n persoon gesê word, iemand anders dan op ’n ietwat gedempte toon en skynbaar ook met die grootste begrip, darem daaraan wil herinner dat dit net jammer is dat die persoon hierdie of daardie swakheid het, of hierdie of daardie fout gemaak het. Net om darem die balans te behou.
Die persoon wat homself dit aangeleer het, meen miskien dat hy dit doen omdat by besonder hoë standaarde handhaaf en noukeurig kan onderskei tussen wat lofwaardig is en wat nie.
Maar so ’n soort ingesteldheid is nie so onskuldig nie. Dit kan ’n simptoom daarvan wees dat ’n mens self minderwaardig voel en dat jy jou eie waardigheid alleen kan probeer bevestig deur op die swakhede van andere te wys – kennelik met die suggestie dat jy nie dieselfde swakhede het nie.
Maar meestal is dit ’n aanduiding dat ’n mens se hart nie die mildheid van die liefde ken wat – volgens 1 Korintiërs 13 – vriendelik is, nie afgunstig nie. Wanneer negatiewe opmerkinge oor ander mense voortvloei uit ’n heimlike blydskap daaroor dat die ander tog nie so goed is as wat hulle voorkom nie; wanneer dit ’n innerlike bevrediging gee omdat die ander daardeur tog tot sy regte proporsies teruggebring word – dan kan ’n mens daarvan seker wees dat daar in jou hart ’n gebrek is aan die liefde wat probeer om alles te bedek, te glo en te hoop.
En waar die liefde teenoor die naaste as die basiese instelling van ons hart ontbreek, is ons geneig om selfs krities en negatief te kyk na mense wat ons glad nie eens ken nie. Ons gaan reeds daarvan uit dat hulle verkeerd en skeef is, lelik en onaanvaarbaar.
Sonder dat ’n mens dit weet, kan vooroordeel jou lewe beheers en kan jy na mense kyk met ’n negatiewe en liefdelose instelling wat herinner aan die beskrywing wat Paulus van die verkore mens gee: “Ons was haatlik en het mekaar gehaat” (Titus 3:3).
As verlossing iets vir ons verhouding teenoor ander mense moet beteken, dan is dit seker dat ons moet leer om na elke ander mens te kyk met die barmhartigheid waarmee Jesus na die skares gekyk het.
Hoe moeilik, vervalle en onaangenaam sommige mense ook al vir ons kan voorkom, ons moet bly bid om die liefde wat ook hulle in deernis omvat. – WDJ