DISSIPLINE IS HEILSAAM
Die Burger, 16 Februarie 1991
In ons geestelike lewe – soos trouens in ons hele lewe – is die handhawing van dissipline van die grootste belang. Die ervaring leer dat ’n mens deur laksheid in jou godsdienstige gewoontes steeds verder kan wegdrywe van die vlak van geestelike ervaring en toewyding wat jy eens geken het.
Ons is so geneig om te dink dat alles in ons godsdienstige lewe spontaan en vanuit innerlike aandrang moet geskied. Op sigself is dit wel korrek dat ons omgang met God, ons gebed en ons kerkgang, ons loflied en ons geestelike arbeid veel meer vreugde vir onsself verskaf en sekerlik ook objektief van veel meer betekenis is as ons dit spontaan en met innerlike oorgawe uit die begeerte van ons hart kan doen.
Maar dit sou verkeerd wees om te dink dat dit waardeloos is as ons dit dikwels ook uit blote dissipline onderhou, ook al voel ons nie dieselfde opwinding as by ander geleenthede nie.
Dit is daarmee immers soos met die liefde. Die liefde tussen twee mense is ervaringsmatig soveel heerliker as dit gedra word deur die spontane wedersydse aangetrokkenheid tot mekaar en die belewing van blydskap en geluk in mekaar se teenwoordigheid. Die element van die belewing van vreugde in mekaar se teenwoordigheid dien ook tot versterking van die liefdesband en dra by tot die groter duursaamheid daarvan.
Maar die ervaring leer dat die liefde tussen twee mense nie altyd op hierdie hoë vlak van ervaring verkeer nie. Die lewe is meer as die spel van die liefde. Elke dag word deur talle dinge gevul wat die bewussyn van die geliefde verdring en die omgang met die geliefde beperk. Die lewe kan so vol word met ander dinge dat die ruimte en tyd vir die ervaring van die liefde al hoe meer verdring word.
As geliefdes nie oog daarvoor het en doelbewus daarvoor sorg dra dat daar nog steeds genoegsaam ruimte vir hul liefde en die ervaring daarvan in hul verhouding bly nie, kan dit op die lang duur ’n bedreiging vir hul verhouding word. Die groei en bestand van die liefde kan nie maar aan die spontaniteit oorgelaat word nie. Daar is dissipline nodig om doelbewus die liefde te bewaar en te voed.
So is dit ook met ons liefde vir God. As ons nie versigtig is nie, kan ons aanvanklike vreugde in God ook kwyn as ons minder tyd maak vir gebed – vir stilte voor sy aangesig, vir omgang met sy kinders en vir die erediens en die voeding van ons siel met die Woord van die ewige lewe.
Ons kan nie net wag vir oomblikke van spontane behoefte daaraan nie. Ons moet, ook as ons geen lus vir die gebed het nie, onsself dissiplineer om te bid. Moenie die formele in die godsdiens afwys nie. Moenie neersien op goeie godsdienstige gewoontes nie. Sorg vir die nodige dissipline wat jou kan help om ’n vaste tyd vir die omgang met God opsy te sit. Volhard daarin ook al voel dit soms betekenisloos. Dit sal lei tot ’n nuwe ervaring van vreugde. – WDJ