Die hardvogtigheid van Jona

DIE HARDVOGTIGHEID VAN JONA
Die Burger, 23 Februarie 1991

Die Nederlandse teoloog Abraham Kuyper het by geleentheid geskryf. “De wêreld valt mee en de kerk valt tegen.” Daarmee het hy bedoel dat ’n mens jou soms moet verwonder oor so baie goeie dinge wat nog in die onverloste wêreld voorkom, terwyl jy omgekeerd dikwels verbysterd staan oor hoeveel kwaad en verkeerdheid daar nog in die kerk bestaan.

’n Sprekende voorbeeld hiervan vind ons in die geval van Jona. ’n Mens sou verwag dat die profeet Jona, as kind van God, vervul sou wees met deernis vir die lot van die heidene in Nineve wat besig was om sonder kennis van die evangelie verlore te gaan. Jy sou verwag dat hy die opdrag van God om hulle tot bekering op te roep, met groot ywer sou uitvoer.

Maar presies die teenoorgestelde gebeur. Sy haat teen die mense van Nineve is so groot dat hy geen barmhartigheid teenoor hulle het nie. Sy een begeerte is dat God hulle moet verdelg. Daarom vlug hy liewer weg en kies uitdruklik om liewer te sterwe as om die boodskap van die lewe na die vyande van sy volk uit te dra.

As God hom deur die hele episode van die storm op see en sy oorlewing in die ingewande van die vis heen ’n tweede kans gee, dan preek hy wel in Nineve, maar as dit blyk dat die mense van Nineve hulle bekeer en God sy oordeel van hulle afwend, maak dit hom woedend. In bitterheid twis hy met God en verwyt Hom sy genadige en barmhartige gesindheid teenoor die Nineviete.

Ons verneem van God se eindelose geduld met Jona en sy pogings om hom van sy ontstemdheid te bevry, maar Jona word net nog meer verbitter. Hy is so hardkoppig soos ’n stout kind – so sonder jammerte vir die meer as 120 000 mense in Nineve, so sonder begrip vir God se liefde, dat ’n mens jouself afvra hoe so ’n mens ooit ’n profeet kon word.

In sterk kontras daarmee lees ons nou egter nie net van God se deernis nie, maar ook van die menslike houding wat die heidense skeepsbemanning openbaar. Selfs toe hulle daarvan bewus geword het dat Jona die oorsaak van die storm is en hy hulle versoek om hom in die see te gooi, sien hulle nog nie dadelik kans om dit te doen nie.

Hulle probeer alles wat hulle kan om nog eers die land te bereik en sy lewe te red. En toe hulle merk dat dit nie moontlik is nie, bid hulle tot God om hulle tog nie te straf omdat hulle Jona op sy versoek in die see gooi nie.

Merkwaardig: God is barmhartig en die heidene is barmhartig, maar God se kneg Jona ken geen barmhartigheid nie. Dit lyk of die heidene onbewustelik die hart van God beter verstaan as hy.

Hoe dikwels is ons as gelowige mense nie ’n verleentheid vir God en ons medegelowiges nie, terwyl ongelowiges tot ons beskaming soms nog deur Gods genade die tekens dra van die egte menslikheid waarvoor God ons geskep het! – WDJ