Leer om God te vertrou

LEER OM GOD TE VERTROU
Die Burger, 2 Maart 1991

Die Psalmboek bly nog altyd een van die kosbaarste besittings van ’n mens wat met God wandel en in die wisselende omstandighede van sy bestaan die woorde soek om met God te praat.

Natuurlik is daar die tye van jubeling en dankbaarheid, van lofsegging en blydskap voor God. Daar kan geen beter boek as die Psalms wees om aan ’n mens die woorde te verskaf om God mee te loof nie.

Daar is ook tye van smart en berou oor sonde. Ook dan sal die Psalms aan jou die taal verskaf om belydenis te doen, te pleit om die vergiffenis van God en in dankbaarheid en ootmoed in sy guns ’n nuwe begin te maak.

Maar vir talle mense word die Psalms deur die jare tog in die besonder die boek waarin hulle hul eie vrees en spanning, bekommernis en moedeloosheid verwoord vind sodat hulle daarmee voor God kan kom en tot rus en vrede terug kan keer.

Dan kan dit gebeur dat ’n mens soms dieselfde Psalm lees en herlees en feitlik daagliks die behoefte het om daarheen terug te keer. Dit is asof ’n mens jou eie hart so volkome daarin uitgedruk vind dat jy niks het om daaraan toe te voeg nie, behalwe net om daarmee in te stem en jou daaraan vas te klem, totdat die gety verander en jy jou weg kan vervolg in die nuwe rigting wat God vir jou wys.

In hierdie verband kan ’n mens aan Psalm 43 dink.

Dit is een van daardie psalms wat ’n mens kan lees en herlees. Daar is baie mense wat in ons tyd bedreig en bevrees voel omdat die dinge waarop hulle gebou het, lyk asof dit rondom hulle verkrummel. Dit maak nie saak wat presies die omstandighede is wat hulle in hierdie situasie gebring het nie. Die feit is net dat hulle soos die digter van Psalm 43 in vertwyfeling is en gebuk gaan onder allerlei gevoelens van verydeling en frustrasie.

Die aangrypende van die psalm is dat dit nie net daardie soort gevoelens vertolk nie, maar ons leer om met God te bly praat en by Hom te bly kla totdat die besef tot ons deurdring dat dit nie God se skuld is dat ons so in die donkerte sit nie. Die digter hou skielik op ’n verrassende manier op om te kla en beskuldigend te vra waarom God dit oor hom toelaat om so in die verdrukking te kom.

Dan draai hy sy vraag skielik om en sê: Waarom is ek so in vertwyfeling, en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Die beskuldigende vinger moet nie na God gewys word nie, maar na homself, want dit is nie God wat hom vergeet het nie, maar hy wat God se trou en beloftes vergeet het.

Dit bring ’n mens tot nuwe oorgawe aan God, tot ’n vertroue wat so soet is dat dit selfs onder die moeilikste omstandighede ’n groot vrede en kalmte aan jou skenk. Dit bevestig in jou die sekerheid dat wie op God hoop, nooit beskaam sal word nie – sodat jy ’n lied in die nag kan sing. – WDJ