Gebed is ’n bewuste gesprek

GEBED IS ’N BEWUSTE GESPREK
Die Burger, 16 Maart 1991

Dit is belangrik dat ’n mens daarvan bewus moet wees dat jou gebedsomgang met God die karakter moet dra van ’n bewuste en persoonlike gesprek met God.

Waar hierdie besef ontbreek, kan dit maklik gebeur dat ’n mens se gebed afsak na die primitiewe vlak van die herhaling van ’n aantal stereotipe gebedsformules, of bestaan uit die opstapeling van ’n aantal wense en versoeke aan die adres van God. Veral wanneer hardop gebid word, geskied dit soms in ’n styl wat laat vermoed dat dit eerder op die ore van die mense as op die oor van God afgestem is.

Daarom is dit sinvol om voor die gebed eers ’n oomblik stil te word en jou hart en gedagtes daarop te rig dat jy voor die aangesig van God is, in sy heilige teenwoordigheid verkeer en met Hom self gaan praat. Dit kan ’n mens help om vervul te word met die eerbied en konsentrasie wat sal verhinder dat jou gebed feitlik gedagteloos geskied, sonder die ervaring dat jy werklik met God te make het.

Dikwels verraai die wyse waarop God in die gebed aangespreek word al dat ’n mens nie genoegsaam deurdronge is van die feit dat jy met Hom self praat nie. Rosalind Rinker wys in ’n boekie oor die gebed daarop dat bidders soms onbewus daarvan is dat hulle in hul gebed byvoorbeeld die Naam van God feitlik onophoudelik as ’n stopwoord gebruik.

’n Mens sal tog nooit in ’n ernstige gesprek met ’n mens tot wie jy in ’n verhouding van vriendskap, liefde en respek verkeer, sy naam honderd maal herhaal, voor en na elke sinsnede nie. Maar daar is mense wat dit in die gebed met die Naam van God doen, en blykbaar onbewus daarvan is. Dit toon dat die gebed nie as ’n bewuste kommunikasie met God ervaar word nie.

Iets dergeliks kan ook gebeur wanneer ’n mens in ’n openbare gebed voorgaan. Jy kan dan so bewus wees van die ander mense rondom jou dat jy byna vergeet dat jy eintlik met God praat. Dit is ook vir die predikant of voorganger by ’n godsdienstige byeenkoms ’n groot gevaar om die gebed te gebruik om dinge te sê wat hy eintlik vir die ore van die aanwesiges bedoel, wat laat blyk dat hy nie genoegsaam daarvan bewus is dat hy met God praat nie.

Ons moet onsself daarin oefen om bewus te bly daarvan dat ons in God se heilige teenwoordigheid verkeer en ons tot Hom as ons Here en Vader rig, sodat ons dit nie net met die nodige eerbied sal doen nie, maar ook met die nodige innigheid, opregtheid en geloof. Dan word die gebed tot ’n gesprek waarin daar ook ruimte is vir stilte en die bereidheid om te luister.

Dit is makliker in die binnekamergebed. Maar dit is ook moontlik in openbare gebede en gebed saam met andere. Hoofsaak is dat ons moet besef dat gebed meer is as ’n ydele herhaling van woorde. Dit is die kommunikasie met Hom wat weet wat ons nodig het, nog voor ons dit vra (Matteus 6:7–8) – WDJ