LEWE IN DIE HOOP
Die Burger, 9 Maart 1991
Die Bybel roep ons voortdurend op om nie moedeloos te word nie, maar om te bly hoop op God wat alle dinge in sy hande hou en die mag het om alle kwaad te oorwin en die goeie te laat triomfeer.
Dit is ’n boodskap wat ons vandag in ons omstandighede baie nodig het. In tye soos dié waarin ons tans lewe, is ’n mens geneig om teen al die negatiewe dinge vas te kyk en dan net die slegste van die toekoms te verwag.
Dit is ook inderdaad ’n uiters moeilike tyd waarin ons lewe. Ons word elke dag deur die nuusmedia ingelig oor al die stryd, oorlog en ellendes, dood en vernietiging wat in die wêreld aan die gang is. Ons ervaar daagliks aan die lyf dinge in ons eie land wat dit uiters moeilik maak om positiewe verwagtinge vir die toekoms te bly koester.
Daarmee saam is daar nog die talle dinge wat in elkeen van ons eie persoonlike lewe skeefloop. Dit is dikwels asof elke moment van blydskap in ons lewe bedreig word deur talle irritasies en teleurstellings wat daarop bereken is om ons lewensvreugde te vernietig en ons moedeloos te maak.
Desondanks word ons in die Bybel opgeroep om te bly hoop. Dit kan volledig onrealisties lyk. Maar die hoop waartoe die Bybel ons oproep, het niks te make met die optimisme wat gebou is op allerlei indikasies dat dinge in die wêreld of in ons land besig is om ten goede te verander nie.
Die Bybelse hoop is die verwagting van die dinge wat ons nog nie sien nie (Hebreërs 11). Dit is die geloof dat God nie beheer oor die wêreld verloor het nie, maar dat Hy in die gang van die geskiedenis met alles wat daarin gebeur, besig is om sy koninkryk te laat kom. En dit het nie net betekenis vir die ewigheid nie, maar ook vir ons aardse bestaan waarin ons telkens mag belewe dat God selfs uit die kwade die goeie gebore laat word.
Dit gee aan ’n mens die krag om moedig en dapper voort te lewe, ondanks alles wat skeefloop. Dit gee die taaiheid om onder teenslae uit te hou in dié vertroue dat God nog daar is en dat Hy magtig is om ook die duisternis van hierdie nag in die lig van ’n nuwe dag te verander.
Maar wat meer is: dit bewaar ons van die versoeking om tou op te gooi en in gelatenheid die wêreld en die toekoms oor te gee aan die magte van vernietiging en geweld. Dit roep ons daartoe op om op grond van die beloftes van God onsself tot beskikking te stel van die toekoms waarop ons hoop, en nou reeds in ooreenstemming daarmee te lewe.
Die opstanding van Jesus uit die dood, is nie net die vaste grond van ons hoop op die ewige lewe nie. Dit is ook die grond vir ons hoop dat God reeds in hierdie wêreld tekens van sy koninkryk tot stand laat kom. En omdat ons daarop hoop, stel ons onsself tot diens van die goeie om elke dag in verantwoordelikheid die wil van God na die beste van ons vermoë te doen. – WDJ