DIS ’N VREESLIKE WÊRELD
Die Burger, 23 Maart 1991
Soms voel ’n mens asof jy jouself moet knyp om vas te stel of dit werklik waar is wat die nuusmedia elke dag berig: die ontstellende gebeurtenisse van oorlog, verwoesting, geweld en dood.
Ons het al so gewoond geword aan die beelde van geweld wat in rolprente en op die televisieskerm – met die oog op ons vermaak – aan ons voorgehou word, dat ons skaars kon glo dat die tonele van verwoesting en verderf van die oorlog in die Persiese Golf werklikheid was.
Ons raak ook so gewoond aan die beelde van die bloedige stryd tussen botsende faksies in ons eie land dat ons nie meer die verskrikking en smart daarvan behoorlik besef nie. Dit is asof ’n proses van afstomping intree en ons uit selfbeskerming ongevoelig word ten einde die pyn uit die hart te hou.
Miskien is daar selfs diegene wat met ’n sug van verligting dink dat die bloedvergieting en geweld gelukkig hoofsaaklik onder ’n ander deel van die gemeenskap voorkom as die waartoe hulle self behoort, en hulself daarom soveel makliker daarvan afsluit.
Maar wat ons ook bewus of onbewus doen om die aakligheid daarvan te verdring, dit kan tog nie heeltemal gebeur nie. Ons kan nie maar ons skouers optrek en daaraan verbygaan of ons hande in onskuld was asof ons nie deel van die wêreld is wat so siek van ongeluk en stryd geword het nie.
Geen Christen kan hom- of haarself onttrek aan die besef dat ons vir hierdie wêreld verantwoordelikheid dra en geroepe is om iets daaraan te doen nie. Die wêreld is nou eenmaal ’n eenheid. Wat op een plek gebeur, moet noodwendig ook diegene raak wat nie regstreeks daarby betrokke is nie. Op een of ander manier tref die gevolge daarvan ons almal.
Natuurlik is dit nie maklik om te weet wat ons daaraan kan doen nie. Daar is ook dinge waaraan ons fisiek niks kan doen nie. Maar daar is tog ook baie dinge wat ons wel kan doen. Daar is byvoorbeeld geen vorm van kwaad wat ons nie voor God kan bring met die gebed dat Hy in sy ontferming sal ingryp om ’n einde daaraan te maak nie.
In ons eie land moet ons nie alleen konkreet bid vir die situasie en die mense wat daaronder ly nie, maar ons kan ook in Christelike medelye uitreik na diegene wat daardeur geraak word. Vir kerke en barmhartigheidsdienste is hier ’n groot taak. Die vernaamste is egter dat ons die verkondiging van die evangelie sal beoefen en bevorder, want verlossing in Christus is die groot antwoord – ook op hierdie probleem.
En natuurlik behoort ons daaraan mee te werk dat politieke en maatskaplike veranderinge tot stand kom om sover moontlik die oorsake van die stryd en lyding te probeer verwyder.
Ons leef in ’n vreeslike wêreld. Maar juis in hierdie soort wêreld moet ons gesindheid en dade duidelik toon dat ons na die wêreld kyk met die barmhartigheid van Christus. – WDJ