Mense moet mekaar kan vertrou

MENSE MOET MEKAAR KAN VERTROU
Die Burger, 6 April 1991

Geen samelewing kan sonder ’n morele basis en onderlinge vertroue bestaan nie. Mense moet mekaar kan vertrou om hul lewe, eiendom en regte te respekteer en te beskerm. Anders stort die grondslae van die samelewing in duie en word die voorspoed en geluk van die gemeenskap as geheel bedreig. Dit beteken onder meer dat misdadigheid binne die gemeenskap sover moontlik uitgeskakel moet word. Dit kan nie gebeur as die lede van die samelewing nie deur hul opvoeding en lewensuitkyk gevorm is om met mekaar om te gaan op ’n wyse wat binne die spelreëls van ordentlikheid bly nie.

Dit is nie moontlik om alles in die samelewing wetlik te reglementeer en op alle terreine mense se regte teenoor mekaar deur die optrede van die polisie te beskerm nie. Daar is ’n groot terrein van ons lewe waar mense mekaar eenvoudig moet kan vertrou as die lewe veilig en normaal moet verloop. Waar dit nie die geval is nie, tree ’n mensonwaardige en chaotiese toestand in.

Ongelukkig is daar tekens dat hierdie soort toestand op baie plekke in die wêreld reeds bestaan, soos in krotgebiede en “slums” in die groot wêreldstede, waarin geen mens se lewe veilig is nie. Maar as tekens nie bedrieg nie, is die verskynsel besig om ook in ons land voort te woeker.

Ons lees feitlik daagliks in die koerante van ontstellende gevalle van roof en moord. Daar is tekens dat die lewe van die mens in bepaalde kringe geen waarde meer het nie. Mense rand mekaar aan en maak mekaar oor geringe dinge of oor politieke verskille dood. Ook ander vorme van misdadigheid neem toe. Bedrog en korrupsie kom steeds meer voor. Onlangs is ook berig oor die onhanteerbare diefstal in kettingwinkels. Geen maatreël blyk genoegsaam te wees om hierdie soort dinge te stuit nie.

Dit is simptome dat die basis van vertroue wat in ’n gesonde samelewing moet kan bestaan, besig is om in ons land weg te val. Die morele grondslag van die samelewing verkrummel. En dit sal nie moontlik wees om dit te herstel sonder ’n grondige heropvoeding van die bevolking en die aankweek van ’n maatskaplike bewussyn waarin morele oortuigings en waardes die lewe bepaal nie.

In hierdie verband is nie net die taak van die kerke nie, maar ook die ouerlike opvoeding van beslissende belang. Ons betaal vandag die prys vir die aftakeling van die huweliks- en gesinslewe in ons land. Ons betaal ook die prys vir die soort maatskaplike ontwrigting wat die besef van wedersydse verantwoordelikheid vir mekaar afgebreek het.

Daar lê ’n bykans onmoontlike weg voor as ons ’n samelewing wil bou waarin mense mekaar weer kan vertrou, omdat hulle oor en weer bereid is om na mekaar se belange om te sien. Dit is slegs moontlik as ons ’n diepgaande godsdienstige vernuwing kan ondergaan en onsself ongekwalifiseerd daartoe kan verbind om die onderlinge vertroue te voed en die morele basis van ons samelewing weer te herstel. – WDJ