IS PAASNAWEEK NOG SINVOL?
Die Burger, 13 April 1991
Goeie Vrydag en Paasmaandag is by ons openbare vakansiedae, omdat ons land in die tradisie van die Christelike Weste op hierdie wyse erkenning aan die groot Christelike feeste verleen. Daaroor kan ’n mens alleen maar dankbaar wees.
Die vraag is egter hoe sinvol dit nog in ons land is. Deur sekularisasie het Paasnaweek sy godsdienstige betekenis in groot mate verloor. Vir die grootste deel van die bevolking is dit blykbaar net ’n lang naweek wat geniet moet word. Almal probeer wegkom na die see of na ander ontspanning.
Gevolglik het dit een van die donkerste naweke in die jaar geword. Die verkeer op die paaie is buite alle verhouding. Dit word elke jaar erger – elke jaar sterf honderde mense in padongelukke, word duisende beseer en word honderde miljoene rande se skade gely.
’n Naweek wat om godsdienstige redes opsygesit word vir die viering van die groot Christelike heilsfeite, word so by ons ’n gevaarlike, bloedige en skrikwekkende geleentheid. Van ’n ernstige viering van die godsdienstige inhoud van Goeie Vrydag en Paassondag, kom onder hierdie omstandighede maar min tereg.
Die groot Christelike komponent in ons samelewing druk nie meer ’n betekenisvolle stempel op hierdie naweek af nie. ’n Kultuur van ontspanning in die Paasnaweek het gevestig geraak en die ware betekenis daarvan feitlik heeltemal verdring.
Hoe moet ons daarop reageer? Dit is nie vreemd nie dat ’n korrespondent onlangs in die pers vanuit Christelike perspektief die voorstel gedoen het dat Goeie Vrydag en Paasmaandag as vakansiedae liewer afgeskaf moet word. Daarvoor is inderdaad veel te sê. Sou dit nie vir die saak waarom dit gaan, beter wees as hierdie kerklike hoogfeeste liewer uit die sfeer van vakansie en ontspanning weggehaal word nie?
Dit is moontlik dat Paasnaweek baie intensiewer gevier kan word as dit nie ’n lang naweek is nie, maar soos Pinkster ’n eie karakter in ’n gewone naweek kan ontwikkel. ’n Diens Vrydagaand, miskien ’n geleentheid vir sang en gebed op Saterdag en vreugdevolle eredienste op Sondag waarby meer gemeentelede teenwoordig kan wees, lyk al ’n stuk beter.
As daar – ook ter wille van die toeristebedryf – behoefte is aan ’n sekere aantal openbare vakansiedae om mense die geleentheid te gee om weg te kom, laat dit dan liewer op ander tye gereël word, en liefs so dat die gevaar op die paaie verminder word deurdat die hele land nie dieselfde lang naweek het, of in enkele ure ver en vinnig moet ry nie.
Die erkenning van Christelike feesdae deur die staat is belangrik. Ons sal dit nie graag wil prysgee nie. Maar as Christene self die betekenis daarvan vergeet, sal die vraag bly opduik of bepaalde fasette daarvan nog sinvol is. – WDJ