ONS EIE GROOTSTE VYAND
Die Burger, 27 April 1991
Ons sê soms dat iemand wat ’n bepaalde soort vriend het, nie vyande nodig het nie. Daarmee bedoel ons dat sy vriende onbewus en met die beste bedoelinge vir hom soveel verleentheid en skade veroorsaak dat hulle eintlik meer kwaad aan hom doen as wat sy vyande aan hom sou gedoen het.
Maar dit is dikwels met ons almal min of meer so dat ons eintlik nie vyande nodig het nie, omdat ons ons eie grootste vyande is – nie omdat ons bedoel om vyandig teenoor onsself te wees nie, maar omdat ons juis in ons selfliefde en skeefgroei ons eie saak op ’n verkeerde manier behartig.
In ons verkeerde ingeboënheid in onsself, in ons beheptheid met onsself, reageer ons dikwels op ’n wyse wat daarop bereken is om onsself ongelukkig te maak. Terwyl ons begeer om gelukkig te wees, doen ons juis dinge wat noodwendig meebring dat ons lewensgeluk vernietig word.
Dit is wat die sonde aan ons gedoen het. Dit maak ons so onverstandig. Dit tas ons perspektief aan sodat ons dinge in die lewe nie na hul juiste waarde kan takseer nie. Dit laat ons die groot en belangrike dinge van die lewe miskyk omdat ons teen die klein en onbenullige dinge vaskyk. Dit laat ons die blywende verloor omdat ons die verganklike te hoog aanslaan. Dit laat ons aan die onaangename van die verlede vashaak, in plaas daarvan dat ons ons oë op die nuwe moontlikhede van die toekoms rig.
Baie huwelike is ongelukkig, nie omdat hulle ongelukkig hoef te wees nie, maar omdat een of albei van die huweliksmaats nie daarin kan slaag om van hul innerlike kramp los te kom en die vreugde en geluk te omhels wat ’n onselfsugtige daarwees vir mekaar kan bring nie. In plaas daarvan dat hulle hulself aan mekaar gee en toevertrou, probeer hulle hulself teenoor mekaar handhaaf asof hulle in ’n situasie van kompetisie met mekaar betrokke is.
Baie huisgesinne is ongelukkig omdat ouers en kinders nie daarin kan slaag om positief teenoor mekaar te wees nie. Hulle sou so graag gelukkig wou wees, maar hulle kan nie omdat hulle vanuit ’n negatiewe instelling lewe. Dit veroorsaak dat hulle altyd die onaangename en verkeerde eerste opmerk of selfs laat vermoed, sodat die weg tot geluk vir hulle versper bly.
Die ergste is dat baie van hierdie dinge ook waar is in die lewe van mense wat Christene is en graag soos Christene wil lewe, maar wat in ’n soort innerlike verkramptheid die Gees van God nie wil toelaat om hulle vry te maak sodat hulle vrolik en positief kan begin lewe nie.
Daar is maar een raad, en dit is dat ons tot ’n punt moet kom waar ons bereid word om onsself heeltemal aan die heerskappy van die Gees van God oor te gee en Hom te vra om ons van die tirannie van onsself te bevry sodat ons in staat gestel kan word om in eenvoud en kinderlikheid positief te begin lewe en die geluk van andere te soek. Dan word onsself ook gelukkig. – WDJ