ALLES WERK MEE TEN GOEDE
Die Burger, 4 Mei 1991
Dit getuig van ’n onbegrensde vertroue in Gods almag as Paulus in Romeine 8:29 skryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet”. Die merkwaardige is dat hy nie slegs sê dat God alles vir sy eie saak, die koms van sy koninkryk, ten goede laat meewerk nie, maar dat hy dit ook sê van diegene wat daarby betrokke is, wat uit liefde geroep is en daarop met wederliefde antwoord.
Daarmee bedoel Paulus kennelik ook vir ons, vir ons wat in Gods liefde glo en, hoe flou en swak dan ook, ons hart daarvoor oopstel. Ook vir ons laat God alles ten goede meewerk met die oog op ons heil, op ons ewige vreugde.
Paulus sê: Ons weet dit. Maar hoe weet ons dit? Beslis nie net uit eie ervaring nie. ’n Mens se ervaring is te grillig, te gemeng, te vol teleurstelling om bloot op grond daarvan sulke ingrypende gevolgtrekkings te kan maak.
Ons weet dit uit Gods Woord, uit sy weg met sy volk soos dit uit die Bybel blyk, en uit sy beloftes dat Hy in sy voorsienigheid ons hele lewe omvat. Ons weet dit veral uit die geskiedenis van Jesus, waarin God uit die duisternis van die kruis die lig van die opstanding en die ewige heil te voorskyn geroep het.
Maar ons weet tog ook uit eie ervaring iets daarvan. As ons met ’n geloofsoog na ons eie lewe kyk, merk ons self hoe alles wat met ons gebeur het – die goeie en die kwade – uiteindelik tot ons beswil gedien het. Ondanks al die grillige en verwarrende van ons lewensgeskiedenis, kan ons terugskouend met dankbaarheid iets van die voorsienigheid van God daarin ontdek.
Soms verstaan ons die voorsienigheid van God verkeerd. Ons dink daaraan hoofsaaklik as die voorbeskikking van God en meen dan dat alles wat gebeur, vooraf so deur God bepaal is. Dit is egter suiwerder om dit eerder te verstaan as die mag wat God oor alle dinge het, selfs oor die werke van die duiwel en die goddelose mens, om dit so te beheer dat dit uiteindelik sy doel bereik en ons beswil dien.
Ons is geneig om onder “alle dinge” heel eerste die kwaad en lyding wat oor ons pad kom, te verstaan. Dit is begryplik en pas ook in by Paulus se betoog in Romeine 8. Maar dis kortsigtig om te dink dat die goeie dinge – voorspoed, sukses, geluk – vanself tot ons beswil sal dien. Dit is nie vanselfsprekend nie. As God ons nie bewaar nie, kan juis sulke dinge struikelblokke op ons weg word en ons van God vervreem.
Daarom moet ons “alle dinge” in ’n omvattende sin verstaan. En dit sluit ook ons sonde in. Dit is ’n huiweringwekkende belydenis. Tog leer die Bybel dit. God wil nie die sonde nie en is ook nie die oorsaak daarvan nie, maar as dit eenmaal daar is deur ons skuld, is Hy so magtig dat Hy selfs dit kan opneem en ombuig tot sy verheerliking en tot ons heil.
Wat ’n troos! In sy almag vang God nie net ons pyn en trane nie, maar selfs ons mislukkings in sy ewige sorg op. – WDJ