KOM, SKEPPER-GEES!
Die Burger, 18 Mei 1991
Tot die eeue-oue liedereskat van die Christelike kerk behoort onder meer ook die lied Veni, Creator Spiritus: Kom, Skepper-Gees. Dit is ’n gebed tot die Heilige Gees om opnuut in die swakheid, koudheid en geestelike armoede van die kerk neer te daal om die kerk opnuut aan te raak, te verlewendig en te vernuwe.
Daarin lê die diepe oortuiging opgesluit dat die kerk volkome afhanklik van die Heilige Gees is. Dit is nie net waar dat mense slegs deur die krag van die Gees tot die geloof kom nie; dit is ook waar dat hulle vir die groei van hul geestelike lewe en die krag van hul boodskap, volkome op die krag van die Heilige Gees aangewese is.
Dat die Skepper-naam in hierdie lied aan die Heilige Gees gegee word, getuig van die oortuiging dat die geestelike verandering wat in ’n mens tot stand moet kom en onderhou moet word, geen kleiner inset van die kant van God nodig het as die skepping van hemel en aarde in die begin nie.
In 2 Korintiërs 5:17 staan daar letterlik in Grieks: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe skepping. Die gedagte dat die kerk of die gelowiges ’n nuwe skepping is, kom meermale in die Nuwe Testament voor. Soos God eenmaal by die skepping deur sy magswoord hemel en aarde in aansyn geroep het, so roep Hy by die wedergeboorte van ’n mens deur sy Woord telkens weer lewe uit die dood te voorskyn.
As ’n mens die Bybel noukeurig lees, word dit duidelik dat alle werke van God altyd van die Vader uitgaan, maar dat dit geskied in die Seun en deur die Gees. Die Gees is God self in sy aktiwiteit, in sy krag, in sy skeppende en vernuwende werksaamheid. Daarom kan die Gees met reg as die SkepperGees aangeroep word met die bede dat Hy die kerk opnuut moet besoek en vernuwe.
Telkens weer, want selfs die wedergebore mens bly nog altyd van die Gees se inisiatief in sy lewe afhanklik. Ons is so swak, so stomp, so halsstarrig, so ongevoelig vir die Gees. Ons bedroef die Gees so maklik en so dikwels. Ons sak so maklik af tot ’n vlak van onvrugbaarheid in die diens van God. Die kerk kan geruisloos verwêreldlik en sy eie identiteit verloën. Daarom bly dit nodig om altyd weer te bid dat die Gees herskeppend en vernuwend na ons moet kom.
Veral ons in Suid-Afrika het die gebed vandag dringend nodig. Dit lyk of die kerk so magteloos is in die geweld van die storm wat oor ons gaan. Die kerk is so gekompromitteer en innerlik verdeeld. Daar is soveel onderlinge wantroue en negatiwiteit teenoor mekaar. Solank dit so bly, kan die Christene nie vir ons land beteken wat hulle moet nie. Met Pinkstersondag behoort alle Christene in hierdie land diep neer te buig en te pleit: Kom, Skepper-Gees, besoek U kerk! Net Hy kan lewe uit die dood te voorskyn roep. Net Hy kan ons tot inkeer bring, ons lewe vernuwe en ons getuienis tot ’n groot krag in hierdie land maak. – WDJ